KYK: Dodo Nyoka sluit jaar op vrolike noot af

Lees ook :

Foto: Hendri Viljoen Skoll Fotografie

Dodo Nyoka sluit sy veelsydige musiekjaar met ‘n vrolike nuwe vrystelling, genaamd Meisie, af.

Fanie Nel van Coleske Group sê hierdie vrolike kuierliedjie is die laaste van 2024 vir Dodo, wat stewig as kunstenaar in die musiekbedryf gevestig is: “Aan die einde van hierdie suksesvolle jaar, bring Dodo vir sy aanhangers ‘n splinternuwe kuierliedjie. Hierdie lekkerluister-pop-Afrikaanse liedjie vier die gees van vakansietye saam met vriende en familie.”

Dodo se jaar word as onvergeetlik beskryf, met vele treffers soos onder meer As Ek Opstaan wat hy vir sy toekomstige vrou geskryf het, Dancin’ In The Stars, ‘n Engelse enkelsnit en Ek Verstaan wat saam met sy Die Kontrak-mentor, Karlien van Jaarsveld, vrygestel is. Steeds is daar aan Dodo geen keer nie en moes hierdie sanger voor die jaar om is, nog ‘n treffer vrystel.

“Een van my aanhangers het my in comments gevra om vir Desember ’n kuierliedjie soos Country Girl van
Bloem te skryf, toe doen ek dit. Dis ’n goeie liedjie vir die somerseisoen. Ek probeer altyd om na my aanhangers te luister met die liedjies wat ek uitreik, en dit is presies wat ek gedoen het met hierdie liedjie. Ek is altyd oop vir goeie raad van enigiemand af,” vertel Dodo.

Wat wil Dodo met Meisie bereik? “Ek wil hê my musiek moet in ‘n wêreld vol bakleiery mense gelukkig maak. My droom is om mense te laat voel asof hulle my al ontmoet het deur my musiek. Ek dink mense gaan van hierdie liedjie hou, want dit is anders en vars.”

Meisie is deur Dodo, Georic Lomas en Marco van Deventer geskryf. Die musiekvideo is deur Eric T Graham en Tehan Buys van ETC Creative in die regisseurstoel by The Grove-winkelsentrum in Pretoria verfilm. Dit vang die nostalgiese gevoel van ‘n ou skoolafspraak vas.

“Ons wou die musiekvideo so natuurlik as moontlik hou, en het hierdie keer net pret op stel gehad,” verduidelik Dodo.

En wat is Dodo se persoonlike hoogtepunt van die jaar? Sonder huiwering is dit sy optrede saam met Francois van Coke by Afrikaans is Groot: “Dit was ’n droom wat waar geword het om op daardie verhoog te staan,” sê Dodo.

Nel sê met Meisie sluit Dodo die jaar met flair af: “Sy unieke vermoë om ’n boodskap van samehorigheid en geluk deur sy musiek oor te dra, stel hom beslis in staat om hoër hoogtes in 2025 te bereik.”

Jy kan Meisie op alle stroomdienste hier vind. Dodo kan op sy webblad, Facebook, Instagram, TikTok en YouTube gevolg word.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief