KYK: Dodo se ‘As Ek Opstaan’ pluk aan die hartsnare

Lees ook :

Foto: Dodo Nyoka

Dodo Nyoka, bekende sanger en naaswenner van Die Kontrak-Seisoen 2, het ‘n nuwe enkelsnit genaamd As ek Opstaan vrygestel.

Nyoka pluk met hierdie vrystelling aan die hartsnare omdat dit oor ‘n brief gaan wat hy as ‘n “oorledene” aan sy toekomstige vrou skryf.

“Dit is ook ‘n gesprek tussen my en God. Ek wou nie wag vir my toekomstige vrou nie, so ek en God het eintlik ‘n stryery gehad en ek het ’n paar keer geval. Maar dis ’n belofte wat ek aan God maak dat ek sal wag vir dié een. Hulle sê jy sal weet wanneer dit die een is, en ek dink die ‘weet’ is daardie klein stemmetjie van God.”

Aanhangers kan uitsien na ‘n mengsel van rock, pop en alternatiewe klanke in hierdie liedjie wat vrygestel is nadat Nyoka onlangs sy lewe vir die Here gegee het.

“Dit sê in die Bybel dat ons God se bruid is. So wanneer ons onsself kies bo God is ons selfsugtig. So
hierdie liedjie is my belofte aan God om Hom bo alles te kies.”

Nyoka sê wanneer aanhangers na die musiekvideo kyk, sal hulle besef hoe Sy kop en hart werk en Sy hart word inderwaarheid in die video gedeel.

“Ek voel elke man moet hierdie vir sy vrou of toekomstige vrou speel. As jy vir jou vrou wil sê hoe lief jy haar het, sonder om woorde te gebruik, is hierdie liedjie vir jou.”

Die sanger, wat die musiekbedryf in 2022 met Die Kontrak betree het, se debuutenkelsnit-musiekvideo Foto’s is reeds meer as ‘n allemintige 4 m. keer op YouTube gekyk.

In 2023 het hy Frikkie vir ‘n Rukkie en Coutry Girl van Bloem vrygestel, waarvan hy laasgenoemde as die hoogtepunt van sy loopbaan beskryf.

“Dit is vir my so lekker om te sien hoe hierdie liedjie mense gelukkig gemaak het. Ek sê altyd ek is ’n sonneblom en die Here is die son. Sonder die son (die Here) gaan die sonneblom dood. En dis wat ek wil wees – daai warmte en lig wat die Here vir my gee, wat ek met ander mense deel.”

As ek opstaan kan op alle digitale stroomdienste hier gevind word, anders kan die YouTube-video bo in die berig gekyk word.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief