Dodo Nyoka het pas sy nuwe enkelsnit Jannaman vrygestel. Die oorwurm met ‘n unieke country-reggae-ritme is ‘n huldeblyk aan sy pa wat hom sy lewe lank al inspireer.
Fanie Nel van die Coleske Groep en Warner Music Africa sê die liedjie het ‘n diep persoonlike betekenis. Dit is ‘n huldeblyk aan Dodo se pa, Jannaman, wie se deursettingsvermoë en onbreekbare gees hom inspireer. Luister daarna en ervaar die hartklop van ’n seun se liefde en bewondering vir sy pa.
“Die liedjie gaan oor my pa Jannaman wat nooit opgee nie. My pa is die inspirasie agter die liedjie. Ek het hierdie liedjie gekies, want ek wou iets vir my pa gee wat vir ewig sal hou,” sê Dodo, wat die liedjie self geskryf het.
Die produksie van Jannaman is deur Jacques Marcelle van Vuuren, wat al sy stempel op die musiekbedryf afgedruk het, behartig. Van Vuuren is reeds bekend vir treffers soos Country Girl van Bloem en Ek Verstaan, ‘n duet met Karlien van Jaarsveld.
Die musiekvideo van Jannaman is deur Kyle White by Ukutula Lodge verfilm. Dodo het volgens Nel voor die vrystelling nie veel van die video verklap nie, maar daar was tonele saam met leeus genoem, wat ‘n bietjie spanning laat opbou het. Nel sê dit maak die visuele vertelling van Jannaman meer spesiaal.
Nel sê voorts die opregte woorde en sielvolle klanke van Jannaman beloof om nie net Dodo se pa te raak nie, maar ook elke luisteraar wat ‘n diep band met hulle geliefdes koester. Dodo wil met die liedjie sy aanhangers nader aan hom bring en hoop hulle geniet die liedjie net so soos hy dit geniet het om dit te skryf en op te neem.
Jannaman kan op alle digitale stromingsplatforms hier gekry word. Dodo kan op sosialemediaplatforms gevolg word.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com





