Kyk: Een vas na urelange gyselaarsdrama in Nederland

Lees ook :

Een verdagte is in hegtenis geneem. Foto's: Remko de Waal en Cedar

EDE, NEDERLAND. – ’n Verdagte is in hegtenis geneem nadat hy Saterdag na bewering vier mense as gyselaars in Petticoat, ’n kuierplek in Ede, Nederland, aangehou het.

Owerhede is om 5:15 Saterdagoggend ontbied nadat ’n verdagte met ’n rugsak by die kuierplek ingeloop en vier mense gyselaar geneem het. Sprake van ploftoestelle op die toneel het ’n groot polisieteenwoordigheid veroorsaak.

Ongeveer 150 huise rondom die kuierplek is as voorsorgmaatreël ontruim. Volgens die munisipaliteit was alle besighede in die area gesluit terwyl die gyselaarsdrama ontvou het. Treine na en van die dorp se treinstasie is ook gestop.

René Verhulst, burgemeester van Ede het aangekondig drie van die vier gyselaars, waaronder twee vroue en een man, is net voor 11:30 vrygelaat. Volgens omstanders was die drie emosioneel ontsteld, maar het geen beserings gehad nie.

Volgens die polisie het die verdagte messe by hom gehad waarmee hy glo die gyselaars gedreig het. Geen terroriste-motief word egter vermoed nie.

Die verdagte het ongeveer 12:30 met ’n balaklawa by die kuierplek uitgestap kort nadat die vierde gyselaar vrygelaat is. Beeldmateriaal wys hoe hy sy hande bo sy kop hou voordat hy op sy knieë neersak en later na ’n polisievoertuig geneem word.

Volgens Marthyne Kunst, woordvoerder van die openbare vervolgingsdepartement, het die verdagte ’n vorige skuldigbevinding van bedreigende gedrag teen sy naam en is sedert laasjaar aan die owerhede bekend.

Die motief vir die voorval word ondersoek.

Die volgende beeldmateriaal is op sosiale media gedeel:

Bronne: NLTimes, Dutch News, CTV News, X

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief