KWAZULU-NATAL. – ‘n Juwelierswinkel in Cornubia Mall is Sondag deur sowat tien gewapende rowers beroof. ‘n Video-opname oor hoe die rowers ‘n massiewe sak juwele by die winkelsentrum uitsleep, word op sosiale media gedeel.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê die verdagtes het die winkel binnegestorm en personeel met vuurwapens gedwing om hulle bevele te gehoorsaam. Rusa het hulle omstreeks 11:55 ná verskeie noodoproepe na die toneel gehaas.
Met aankoms is bevestig dat die rowers ’n onbekende hoeveelheid juwele buitgemaak het voordat hulle in ’n silwer Toyota Etios en ’n blou Toyota Starlet op die vlug geslaan het. Registrasienommers van die voertuie is onbekend en niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Volgens KZN VIP Protection Services het sowat agt mans, wat hulle as kopers voorgegee het, die winkel kort voor 12:00 met inkopiesakke betree. Die verdagtes het personeel onder skoot gehou, hulle in ’n hoek gedwing en daarna glasvertoonkaste stukkend geslaan voordat hulle die juwele gesteel het. Dié diens het nadat hulle deur sosiale media oor die rooftog ingelig is, taktiese reaksie-eenhede en mediese spanne na die toneel ontplooi. Winkelpersoneel is getraumatiseer, maar sonder beserings aangetref. Personeel is wel deur paramedici op die toneel behandel.
KZN VIP se taktiese reaksie-eenhede en mediese spanne is onmiddellik ontplooi ná hulle deur sosiale media oor die rooftog ingelig is. Toe die span arriveer, is getraumatiseerde winkelpersoneel aangetref, maar gelukkig is geen fisieke beserings aangemeld nie. Personeel is wel deur paramedici op die toneel behandel. Die rowers het in ’n wit Toyota Starlet met registrasienommer MM05XT GP gevlug.
Nuusflits het polisiekommentaar gevra.





