“Ek het so ’n paar jaar gelede ’n sêding gehoor: ‘Lag is die kortste afstand tussen mense,’ en ek het heeltemal verlief geraak daarop.”
Só praat Marco van Deventer, die een helfte van ONS, oor die tweede, maar nuutste, enkelsnit wat hy en Ruvé Erasmus, die groep se ander helfte, so pas vrygestel het. Die enkelsnit gaan heel gepas oor die sêding wat vasgesteek het en die inspirasie vir Lag is.
Die liedjie gaan daaroor dat mens ‘n meisie moet laat lag en nie geld of status nodig het om haar te beïndruk nie. Van Deventer sê meisies wil graag ‘n ou hê wat haar kan laat lag.
Dis een van die eerste liedjies wat die groep gedurende die grendeltydperk geskryf het. Boonop het hulle dit tydens hulle afspraak met Coleske Artists ook gesing. Met die liedjie was die koeël deur die kerk en hulle is as kunstenaars van Coleske geteken.
“Die liedjie het vir ons baie betekenis en herinner ons aan hoe lekker ons altyd saam kan lag.”
Van Deventer beskryf die liedjie as aansteeklik met energie wat jou saam sal laat sing en dans.
“Dit is ’n lekker ligte liedjie waarop jy kan sokkie, saam sing of selfs net in die agtergrond van jou braai kan speel!” sê Marco.
Hulle wil hê luisteraars moet bekommernisse vir ‘n oomblik vergeet. Kort voor lank sal jy die koor neurie en jy sal beter voel.
‘n Kortspeler met nog liedjies word vir die jaar beplan, maar alle drome word stapsgewys benader.
“Die musiekvideo sluit baie mooi aan by die tema van Lag, dat jy nie geld nodig het om ’n
meisie te beïndruk nie, solank jy haar net laat lag. Die video wys hoe twee jong mense
ontmoet en dadelik oor die weg kom omdat hulle mekaar laat lag. Hulle volg mekaar
deur Pretoria op afsprake wat niks kos nie, maar vol lag is!”
Die musiekvideo is met behulp van Buffelsfontein Brandewyn en Atlas Media verfilm.
Jy kan hier na Lag luister en die musiekvideo hier of bo in die artikel kyk.