Jan Bloukaas, sanger en kletsrymer, oftewel Jean du Plessis, het weer ‘n skandering vir breinkanker ondergaan. Ten spyte van chemobehandeling het hy gister in ‘n video gedeel dat die kanker in sy breinstam besig is om te groei en groter te raak.
Hy vertel hy wou hierdie jaar groot gaan met liedjies skryf en toer, maar kan dit ongelukkig nie meer doen nie.
“Ek glo nog steeds in wonderwerke.”
“As ek moet gaan, is dit so.”
Bloukaas is ondanks die nuus wat hy ontvang het positief oor sy geloof en die lewe wat hy het en wat hy ervaar het. Hy sê hy is opgewonde om plaas toe te gaan saam met sy ouers en vriende.
“Ons gaan die meeste van hierdie lewe maak terwyl ons hom nog het.”
Indien moontlik, beplan hy om aan musiek te werk om nog ‘n album vry te stel, vertel die moedige sanger. Hy noem dit ‘n “totsiens-albumpie.” Hy noem hy sukkel wel om die musiek klaar te maak omdat die kanker sy gehoor aantas.
Dan breek die emosie deur en Bloukaas sê dit is baie moeilike nuus om te kry, maar dit is deel van die lewe. Hy sal sy planne op sosiale media deel.
“Daar is altyd ‘n plan.”
Met die ongeveer 18% wat die kanker groter is, het Bloukaas die dokters gevra hoeveel tyd daar is. Die dokter het gesê omdat die kanker op ‘n moeilike plek sit, is dit moeilik om te sê.
Bloukaas se profielfoto op Facebook kan hier onder gesien word.
Janine Hofmeyr het die volgende kommentaar onder sy plasing gemaak: “Wat ‘n awesome AWESOME mens is jy nie!! Baie liefde en sterkte vir jou”
Duisende boodskappe ter bemoediging en gebede is onder sy plasing gemaak. Aanhangers is dit eens dat hierdie sanger ‘n besonderse mens is.
