Jay, oftewel Jaco du Plessis, is na twee dekades steeds gelief onder sy aanhangers. Met sy nuutste liedjie, Sou Vir Jou, wys die pa van vier seus, wat as ‘n hartebreker in die musiekbedryf bestempel word, waarom hy steeds so gewild is.
“Ek dink almal kort ’n nuwe liedjie in hul speellys, so hier is myne. Luister hom vrot,” skerts Jay.
Met sy bekende lewenslustigheid en onnutsigheid het Jay reeds meer as twintig jaar gelede ‘n solo-loopbaan aangepak en sy boy-band-skoene ontgroei.
Met die nuut vrygestelde enkelsnit wen die “stout seun van musiek”, met die silwer in sy hare wat parmantig begin kop uitsteek, steeds harte. Dié liedjie gaan oor ‘n man wat vir ‘n meisie buite sy bereik sing. Jay het dadelik van die unieke invalshoek en aansteeklike energie van die liedjie gehou.
“Ek kon vinnig saam sing en die vibe van die liedjie was vir my positief en opbeurend. Ten spyte van die
feit dat dit gaan oor ’n ou wat vir ’n ander ou se meisie sing.”
Jay se doel met sy musiek is om mense te laat ontspan en van hulle sorge te laat vergeet. Al is dit net vir ‘n rukkie. Hy hoop die liedjie sal aanklank vind, sy bewonderaars sal daarop verlief raak en dit sommer gereeld om die kampvuur of tydens kuiers speel. Sou Vir Jou, ‘n popsokkienommer, is deur Emil Paul geskryf. Met Sou Vir Jou stel Jay weereens sy onmiskenbare talent en passie vir musiek ten toon.
Kyk gerus hierbo waar Jay in ‘n lawwe bui, Sou Vir Jou, sing. Met die lirieke beskikbaar kan die aanhangers sommer lekker saam sing.
En wat is Jay se hoogtepunte van sy loopbaan? Hy waardeer eenvoudig die voorreg om sy passie vir musiek uit te leef.
“Dit is onmoontlik om een spesifieke oomblik uit te sonder.”
Jay, eens deel van die gewilde boy-band EDEN, het na die groep uit mekaar is, ‘n suksesvolle solo-loopbaan aangepak. Hy het ook ‘n rol as Steve Hofmeyr se seun in die film Platteland vertolk. Saam met sy vrou Mia, ‘n suksesvolle advokaat, en hulle vier seuns, Aiden, Samuel, Luka en Jamie, was hulle as gesin deel van ‘n realiteitsreeks genaamd Jay & die Boys.
Jaco du Plessis is op 11 September 1977 in Sasolburg gebore. Na skool het hy by die lugmag aangesluit en sy liefde vir musiek het hom deel van die Kanaries-sanggroep gemaak. As kunstenaar was hy ook deel van verskeie verhoogproduksies. Hy wen in 2001 die ATKV Crescendo-kompetisie saam met Joe Niemand. Daarna het hy in 1997 by die boy-band EDEN aangesluit, waarna sy solo-loopbaan gevolg het.
Aahangers kan vanjaar na nog twee vrystellings uitsien.
Die lied met lirieke kan hier bo in die berig, of op youtu.be/0PcWzwE4OU8 gesien word. Dit kan op alle stromingsdienste by die volgende skakel gevind word https://souvirjou.lnk.to/Jay

Foto: Hendri Viljoen