WES-KAAP. – Lt.genl. Thembisile Patekile, die provinsiale polisiekommissaris van die Wes-Kaap praat in die video-opname hier bo oor die saak van die vermiste Joslin Smith (6) van Diazville in Saldanhabaai en hoe die ondersoek tans vorder.
Speurders van die Wes-Kaap het gisteraand vier individue vir ondervraging in hegtenis geneem. Dit is twee mans en twee vroue tussen die ouderdom van 26 en 34. Die kommissaris sê alhoewel Joslin nog nie gevind is nie, word inligting van die ondervraging opgevolg en die moontlikheid bestaan dat die persone kan hof toe gaan.
Brig. Novela Potelwa sê die ondersoek bou momentum op en inhegtenisnemings is waarskynlik. Tydens die ondersoek het speurders verskeie plekke op die Weskusdorp besoek en persone ondervra.
“Daar word voorsien dat namate die ondersoek ontvou, lig gewerp sal word oor waar Joslin haar bevind of wat met haar gebeur het.”
Die soektog oor dae het polisielede, buurtwagte, verteenwoordigers van verskeie sfere in die regering, NPO’s, gemeenskapsaktiviste en individue saam laat staan om die vermiste meisie te probeer opspoor.





