Beeldmateriaal in die berig.
GAUTENG. – ‘n Juwelierswinkel is Dinsdagmiddag in Clearwater Mall in Roodepoort beroof. Met die vinnige optrede van die polisie en privaat veiligheidsmaatskappye is sewe verdagtes na ‘n skietgeveg, gearresteer. Drie verdagtes is in die skietery beseer.
Kol. Mavela Masondo sê twee polisiebeamptes is ook tydens die oor-en-weer-skietery beseer. Een is op die toneel behandel en een is in ‘n ernstige maar stabielie toestand, vir mediese behandeling na ‘n plaaslike mediese fasiliteit geneem.
Volgens rapportering het ongeveer agt gewapende verdagtes die werknemers in die juwelierswinkel aangehou. ‘n Aansienlike bedrag geld en juwele is geroof. Toe die verdagtes van die mall vlug, het hulle hulle in die polisie en veiligheidsmaatskappye vasgeloop en ‘n skietgeveg het ontstaan. Vier van die verdagtes is oorkant die mall in Christiaan de Wetstraat in hegtenis geneem en twee vuurwapens is gekonfiskeer.
Nog drie verdagtes is in Dobsonville gearresteer en op nog twee vuurwapens beslag gelê.
Van die juwele is teruggevind. Die verdagtes sal na verwagting binnekort op aanklagte van sakeroof, poging tot moord en die besit van ongelisensieerde vuurwapens in die Roodepoort-landdroshof verskyn.
Clearwater Mall het bevestig hulle werk ná die rooftog nou met die polisie saam.
“We can confirm that a robbery took place at one of our jewellery stores today (Tuesday, 22 October 2024). The suspects fled with an undisclosed number of items. No physical injuries were sustained.We are working closely with the SAPS in investigating this matter, as the safety of our customers and staff is of utmost importance to us.”





