KWAZULU-NATAL. – Altesaam 12 leerlinge het vanoggend (Dinsdag) net na 07:00 beserings opgedoen nadat die taxi wat hulle vervoer het, in ‘n ongeluk betrokke was.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê die ongeluk het op die hoek van Marinerylaan en Blackpoolstraat in die Bluff plaasgevind. Jamieson sê chaos is op die ongelukstoneel aangetref, nadat die taxi met twee ander voertuie gebots het. Aangesien verskeie leerlinge beseer is, is meer ambulanse ontbied.
Leerlinge het matige tot ernstige beserings opgedoen en is op die toneel gestabiliseer, voordat hulle vir verdere behandeling na verskeie Durban-hospitale vervoer is.
Omstandighede van die ongeluk is onbekend, maar die polisie was op die toneel en stel ondersoek in.





