Kyk | Leraar getuig: ‘Ons moet oor ons donker tye praat; die siekte gaan nie altyd weg nie’

Lees ook :

Leraar getuig

Deur Helene Meissenheimer vir Kerkbode

Bennie Janse van Rensburg het besluit hierdie Pinkster gaan hy eerlik wees oor die feit dat hy al self gewonder het waar is die Heilige Gees – veral onlangs.

Die gebore Vrystater was vir 25 jaar predikant by die NG Moedergemeente Wellington voor hy op 60 in 2021 om mediese redes moes uittree.

Bennie het ’n oorerflike spierkwynende siekte waarvoor daar nie genesing is nie. FSHD-spierdistrofie, wat in 2007 by hom gediagnoseer is, het hom oor jare so verswak dat sy stewige paar bene hom nie meer kan vat waar hy wil wees nie. Hy kan nou nie eens meer uit die bed opstaan sonder dat Susan, sy ‘engel’ soos hy sy vrou noem, of sy versorger hom help nie.

Sy vrou, sy kinders en kleinkinders, hulle vriende, hulle huis … hy het baie om voor dankbaar te wees al is sy siekte geen “ligte musiek” nie. So vertel hy terwyl ons Kerkbode-span in die woonkamer sit van hulle mooi meenthuis. Deur die groot vensters sien ’n mens ’n stukkie tuin met in die verte die blou van Groenberg en Hawekwaberg.

Vir hierdie eertyds besige gemeenteleraar het sy leefwêreld die laaste jaar verskraal tot hulle meenthuis. Dit is ’n liefdevolle en warm leefruimte gevul met familiefoto’s, skilderye en selfs ’n soldaatjie uit sy weermagdae (wat ’n paar maande grenstyd ingesluit het saam met 32 Bataljon in Angola).

In 2023 kon hy nog sy naamgenoot-kleinkind in die kerk doop vanuit ’n rolstoel, maar sulke uitstappies raak al minder. Dit is slegs as sy seun en skoonseun hom help, dat hy in ’n rystoel kan kom en dan kan hy nie lank daarin sit voor die pyn te veel word nie.

Tog bly hy betrokke. Hy stuur steeds weekliks aanlynboodskappe na gemeentelede uit vanaf sy tablet. Mense vertel hom hy stel ’n goeie voorbeeld, maar vroeër vanjaar het hy so ’n donker tyd deurgemaak hy het gevoel die Here kan maar iemand anders kry om ’n voorbeeld te stel.

Eerste tekens was val en moeg wees

Bennie vertel hy was voor sy siekte ’n hoogs effektiewe dominee. Hy het huisbesoek gedoen, Bybelstudies gelei, alles. Toe in 2007 begin hy skielik val. Op die gholfbaan. Tydens muurbal. Hy het ook vreeslik moeg begin voel.

Vele mediese toetse later kom die uitslag: Hy het FSH-spierdistrofie. Die gebore Vrystater vertel dit is ’n oorerflike siekte wat die spiere teiken en waarvoor daar nie genesing is nie. Die siekte teiken gewoonlik die spiere in die gesig, skouers en heupe (die FSH staan vir Face, Shoulders, Hips), maar by hom was dit sy bene. Sy ma was die draer, maar sy het dit nie geweet nie, want sy is gesond. Hy is ook die enigste van sy drie broers wat simptome toon.

’n Kankerstryd

Kolonkanker is in 2014 by hom gediagoseer. Dit was reeds ver gevorderd (graad 4) en het ook na sy longe en kliere versprei. Bennie onthou die dokter het vir hom gesê as hulle nie die gewas kan verwyder nie gee hy hom ’n jaar oor om te leef.

LEES OOK: Jaco Strydom gesels met leraar Rethie van Niekerk: ‘Iets kan gelyk ontsettend pynlik en beautiful wees’

Gelukkig het ’n intensiewe pad met chemoterapie die kanker suksesvol in remissie gesit, maar dit het Bennie se beenspiere verder verswak. Soos hy vertel, “ek het ingestap vir chemo en met ’n kierie uitgestap”.

Aftrede op 60

Hy wou van jongsaf net een beroep volg, dié van predikant wees. So selfs al moes hy later ’n loopring gebruik, het hy aanhou bedien totdat dit net te moeilik geraak het om by mense uit te kom.

Na sy aftrede in 2021, midde-in die Covid-pandemie, het Bennie en sy vrou na hierdie gerieflike meenthuis sonder trappe verhuis. Susan het haar suksesvolle koffiewinkel opgegee om meer voltyds na hom te kan kyk. Hulle het ’n paar dae per week ook ’n versorger om haar te help. Hy het egter al meer begin val. Toe vra hy ’n paar vriende om vir hom ’n spesiale stoel van vlekvrye staal op wiele te bou. Die stoel het ’n ingeboude hysertjie wat kan sak en lig soos nodig. Hy stort op die stoel en dit kan ook as ’n kommode dien.

Elke mens kry ’n beker 

Bennie vertel hy het daagliks pyn in sy lyf. Nogtans was alles wat hy deurgemaak het vir hom houdbaar. ’n Boekie van die Nederlandse priesterskrywer Henri Nouwen het hom al met sy kankerstryd gehelp om te besef elke mens kry ’n beker om te drink saam met die genade om dit te kan doen. Hierdie was syne. Hy was ok daarmee … so het hy gedink.

Toe kom die donker tyd vanjaar. Die details hiervan, toe hy dit later vir Kerkbode vertel, skets ’n rowwe prentjie.

LEES DIE VOLLE ARTIKEL OP KERKBODE HIER


Vrywaring: Nuusflits publiseer advertensies en geborgde inhoud vir bemarkingsdoeleindes. Die sienings en aansprake wat in advertensies geuiter word, weerspieël nie die standpunte van Nuusflits, sy redaksie, of enige van sy affiliasies nie.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Subscribe
Notify of
guest
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief