WES-KAAP. – Die Sentraal-Suid Koöperasie het ’n video op hul Facebook-blad geplaas van ’n luiperd wat Maandag tussen Calitzdorp en Van Wyksdorp in die Rooibergpas gesien is.
In die video sit die luiperd aanvanklik doodstil. Later beweeg dit na die motor waaruit die video geneem word.
Japie Nel vertel die area is bekend vir luiperds. Hulle het gereeld visgevang in die poort by Calitzdorp en dan met luiperds in die omgewing te doen gekry.
Nog ’n inwoner van die gebied, Freddie van Tonder, sê daar was al ’n luiperd op sy dak. “Kom gereeld hier by my. Was al hier by my huis op die dak gewees en een aand onder die lemoenboom gelê. Een skaap is gevang. Ek het hom verwilder. Hy het nog nie weer die skape gepla nie, maar ja, ek is bang vir my kleinkinders. As hy honger is, vang hulle wat voorkom.”
William Botha vertel dat ’n luiperdwyfie gereeld op sy plaas kom wat aan die Rooibergpas grens. “Laas jaar het sy ’n welpie ook gehad.”
Party mense is van mening dat die luiperds altyd in die omgewing was, maar net selde gesien word.
Michael Botha stel dit mooi: “Indien dit wel so is, hoop ek daar is genoeg natuurlike wild in daardie area sodat die luiperds en ander diere natuurlik kan oorleef. Sonder konflik met die boere oor hul vee.”
Kyk die video hier.
Bron: SSK, Facebook





