KWAZULU-NATAL. – ’n 31-jarige man,’n werklose bouer en pa van ’n minderjarige dogter, is Maandagoggend deur ‘n taxi na die Rusa-hoofkantoor geneem, nadat hy na bewering uit die hande van sy ontvoerders ontsnap het. Volgens hom is hy glo na ’n suikerrietplantasie geneem waar sy ontvoerders hom sou doodmaak.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê in ‘n sosialemediaplasing volgens inligting wat verskaf is, het die slagoffer Sondagaand omstreeks 19:30 in Mayville naby die Bassas Mall ‘n geleentheid gekry. Hy is deur drie mans en ’n vrou in ’n silwer Toyota Etios opgelaai. Kort daarna is sy selfoon, ’n Samsung J1, van hom afgeneem en hy is herhaaldelik aangerand. Sy voete is met slotte vasgeketting voordat hy in die kattebak van die voertuig gelaai is.
Rusa sê die slagoffer het vertel dat die groep hom na verskeie plekke en kroeë geneem het en dat dit geklink het asof hulle na partytjies is. Teen ongeveer 04:00 vanoggend (Maandag) is hy glo naby ‘n suikerrietplantasie uit die kattebak gelaat. Hy het geglo dat sy ontvoerders hom sou doodmaak en sy liggaam daar weggooi. Terwyl die verdagtes gewag het dat ’n voertuig verbyry, het die man in die plantasie ingevlug en daar weggekruip. Die verdagtes is weg toe hulle hom nie kon kry nie. Hy het na die pad geloop en hulp gevra by ’n verbygaande taxi wat hom na die Rusa-hoofkantoor geneem het.
Volgens verdere kommentaar van Rusa is die slagoffer van die Verulam-polisiekantoor na die Mayville-polisiekantoor geneem. Rusa-beapmptes en die polisie het egter opgemerk dat sy weergawe van die beweerde ontvoering verskeie kere verander het. ’n Soektog na die taxibestuurder wat hom afgelaai het, is aan die gang.





