Waarskuwing! Nie vir sensitiewe lesers nie.
KWAZULU-NATAL. – ‘n Meisie (13) wat Dinsdagmiddag weggehardloop het toe twee pitbulls in Lotusstraat in Temple Valley, waar sy op die sypaadjie gestap het, haar bestorm het, is deur ‘n voertuig gestamp.
Reaction Unit South Africa sê hulle is omstreeks 17:50 na die toneel ontbied. Met aankoms is reaksiebeamptes ingelig die meisie is ‘n inwoner van Newcastle wat by familie vakansie hou. Sy was op pad van ‘n snoepwinkel af toe die twee pitbulls op haar afstorm. In ‘n poging om te ontvlug het sy in die straat beland en is deur ‘n voertuig gestamp. Die honde het weggehardloop. Die meisie het ‘n bytwond aan haar regterbeen en beserings aan haar kop en lyf opgedoen.
Sy is vir behandeling na ‘n hospitaal geneem.
Inwoners het aan Rusa-beamptes gesê die honde word gereeld gesien waar hulle rondloop, maar dit is onbekend wie die eienaars is. Vorige beweerde aanvalle op voetgangers kon nie bevestig word nie.





