GAUTENG. – Vyf verdagtes is Woensdagoggend op aanklagte van voertuigkaping en die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen gearresteer. Die arrestasies is by die huis in Houghton, Johannesburg, wat aan die oorlede staatsman, Nelson Mandela, behoort het, uitgevoer. Een van die verdagtes is glo sy kleinseun.
Supt. Xolani Fihla, woordvoerder vir die Johannesburgse metropolisie-departement (JMPD), sê die taktiese reaksie-eenheid het inligting van ‘n opsporingsmaatskappy gekry en dit opgevolg. Die ligging van ‘n wit Toyota Corolla, wat glo vroeër Woensdag in Louis Botha-rylaan in Oaklands gekaap is, is opgevolg. Die inligting het die beamptes na die huis wat voorheen aan oudpresident Nelson Mandela behoort het, gelei. Op die perseel is die gekaapte voertuig teruggevind en na ‘n verdere soektog die ongelisensieerde vuurwapen.
Fihla sê dit blyk asof die vroulike verdagte die huis huur en die manlike verdagtes ken. Die vyf verdagtes, vier mans en ‘n vrou, is by Norwood-polisiestasie aangehou.
Die kapingslagoffer is ongeskaad.