KWAZULU-NATAL. – Ses verdagtes is Maandagaand kort voor middernag deur die polisie in South Beach, in die Punt-area van Durban, noodlottig in ‘n skietery gewond.
Kol. Robert Netshiunda sê die verdagtes is vir moord en afpersing gesoek.
“Die polisie was besig om verdagtes te soek wat Sondagaand in Siyaphambiliweg in Tshelimnyama, Marianhill, vyf mense teregstellingstyl geskiet en vier van hulle doodgeskiet het. Vyf mans het langs die pad gesit en alkohol drink toe die verdagtes in ‘n voertuig, gewapen met pistole en ‘n geweer, opgedaag en die slagoffers beveel het om te gaan lê, voordat hulle in die agterkop geskiet is.”
Die polisie het inlingting ontvang dat die verdagtes in Newlands East wegkruip en dit opgevolg.
“Met aankoms is inligting bekom dat die verdagtes by ‘n gehuurde vakansiewoonstel in South Beachlaan in die Point-omgewing van Durban was. Toe die polisie hul teenwoordigheid by die woonstel aankondig, het die verdagtes losgebrand en ‘n skietgeveg het ontstaan. Al ses verdagtes is tydens die skietgeveg noodlottig gewond.”
Netshiunda sê die verdagtes is ook verbind aan ‘n driedubbele moord waartydens drie mans Vrydag naby ‘n snoepwinkel in die Minitown-hoofpad in die Mpumalanga-woonbuurt in Hammersdale doodgeskiet is. Hulle word ook met ‘n roof verbind wat Vrydagaand by ‘n winkel op die grondvloer van die woonstel waarin hulle vasgekeer en doodgeskiet is, gepleeg was.
“Daar word ook vermoed dat die verdagtes by onwettige dwelmhandel betrokke was.”
Netshiunda sê nog voordat die woonstel behoorlik deursoek is, het die polisie drie vuurwapens in die verdagtes se besit gevind. Dit sal ballistiese toetse ondergaan om vas te stel of dit aan ander misdade verbind kan word.
“Die polisie is op die hakke van die persoon wat die kamer vir die oorledenes bespreek het.”
Geen polisiebeampte het enige beserings opgedoen nie.