Waarskuwing! Die beeldmateriaal kan sommige lesers ontstel.
WES-KAAP. – Die beweerde aanranding van kinders wat Vrydag op die hoek van Van der Riet- en Kruidstraat in Oudtshoorn plaasgevind het, is op video vasgevang en word deur die polisie ondersoek. ‘n Vroulike verdagte (52) en ‘n manlike verdagte (75) is in hegtenis geneem en sal na verwagting vandag (Maandag) in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn.
Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits ‘n saak van aanranranding met die opset om ernstig te beseer, is geregistreer. Die omstandighede van die voorval word ondersoek. Enigiemand met relevante inligting is gevra om na vore te kom.
Die Oudtshoorn-gemeenskapspolisiëringsforum het op sosiale media gesê die insident van kinderaanranding word in ‘n ernstige lig gesien. “Van der Riet St, Oudtshoorn incident, 13 Feb 26. The GPF confirms that we are aware of the incident and that it is considered in a serious light. All allegations will be fully investigated. Child abuse and any form of assault is not tolerated in a law abiding community.”
Leon Campher, wat ‘n foto van die kinders in die beweerde voorval se beserings gedeel het (hier onder), sê: “Aanranding op kinders: Die kinders is opgespoor en saak sal voortgaan. Al het die kinders verkeerd gedoen soos nou beweer word, het niemand reg om hulle aan te rand nie. Moet dit toegelaat word dat die oortreders sommer gister gou klaer, aanklaer en judge speel en reeds die kinders sonder n verhoor kon straf? Die is aanranding ernstig. Finish en klaar.”
Sonja Le Roux Henkerman wat ‘n video-opname (hier onder) gedeel het, het gesê die optrede is nie geregverdig nie. Die opname is reeds meer as 2 miljoen keer gekyk, meer as 3 000 keer gedeel en het behoorlik kommentaar uitgelok. Sommige voel die aanranding op kinders is net te veel, terwyl ander sê diegene wat vir die kinders opkom, sal ‘n ander deuntjie sing indien dieselfde kinders ernstige misdade teen hulle sou pleeg.






