GAUTENG. – Motoriste is gewaarsku oor protesaksies en word aangeraai om alternatiewe roetes te gebruik.
Die M1 en M2-hoofweë in en om Braamfontein en Johannesburg is weens protesaksie blokkeer.
Supt. Xolani Fihla, polisiewoordvoerder, sê ongeveer 10 000 werknemers van Johannesburg wat met SAMWU geaffilieer is, het die paaie vir verkeer blokkeer.
“Na wat verneem word, is die lede gegrief oor loongeskille, nadat ‘n poging aangewend is om vanoggend in Braamfontein met die stad se leierskap te praat.”
Die M1 is in beide rigtings by Smitstraat in Braamfontein en in beide rigtings op die M2 in Selby blokkeer. Hewige verkeersontwrigting word in die area ondervind.
“Ten spyte van die sluiting word berig dat die lede nie gewelddadig is nie en beamptes is ontplooi om verkeer te herlei.”
Fihla sê die verkeer word by die Empirepad op die M1-suid, Booysenstraat op die M1-Noord en Rissikstraat/Selby uitgang op die M2-Wes herlei. Motoriste wat van die Crown-wisselaar af kom en die M2-Oos gebruik, kan by die M1-Suid aansluit en by Booysenstraat uitgaan.
“Ons doen ‘n beroep op motoriste om versigtig te wees, die M1- en M2-hoofweë te vermy en alternatiewe roetes te gebruik om die sluitings te vermy.”

Foto: JMPD





