Chris Steyn, of soos hy van Die Kontrak 3 af geken word as “Plakkies,” het sy enkelsnit Plaas Dorp Toe vrygestel.
Indien jy ‘n aanhanger van ‘n liedjie is wat ‘n lekker ritme het, die dansvoete laat kriewel en dadelik in jou kop vassteek, moet jy hierdie liedjie doodeenvoudig op jou speellys hê.
Steyn nooi die Plaas Dorp Toe: “Dit gaan speels oor hardwerkende boere wat verdien om ook ’n bietjie te rus, so ek nooi hulle dorp toe vir ’n lekker kuier.”
Hierdie liedjie is vir Steyn ‘n nuwe styl en hy is opgewonde om te sien hoe die mense op die “upbeat” liedjie sal reageer. Steyn beskryf dit as ‘n liedjie met ‘n goeie gevoel en sê: “Dit is wel ’n lekker kuierliedjie, vir almal, nie net die boere op hulle plase nie, maar ook vir die stadsjapies wat lus kry vir ’n lekker aandjie saam met vriende. Die mense behoort dit by ’n braai of by ’n kuier te speel, met die klem op ’n lekker tyd.”
Plaas Dorp Toe kom uit die pen van Steyn, saam met Georic Lomas en Marco van Deventer van die musiekgroep ONS.
Die musiekvideo is in Brits in Noordwes in die koue deur Conrad Theron en sy span van Atlas Media, verfilm. “Ons het op die plaas Model Pak verfilm en al hulle boere was goedgunstig deel van die musiekvideo. Dit was vir my baie cool om hulle almal te ontmoet en stories te deel. Die boere werk baie hard om die kos wat ons eet in die winkels te kry en ons moet dankbaar wees vir hulle.”
Steyn is opgewonde om hierdie jaar weer in November by Afrikaans Is Groot op te tree en word as een van die besigste kunstenaars in die bedryf bestempel. Hy hoop sy liedjies sit luisteraars in ‘n goeie bui en dat hulle op sy musiek sal kuier en dans.
Terwyl Steyn steeds aan die begin van sy musiekloopbaan is, is hy gesog. Met sy eerste enkelsnit Helemal het Steyn as wenner van Die Kontrak 3 binne ure na die vrystelling die eerste posisie op Apple Music beklee.
Die liedjie Plaas Dorp Toe kan hier bo gesien en geluister word, of by die volgende skakel op YouTube: https://youtu.be/3VjcyjQCoPc
Op digitale stroomdienste kan die liedjie by die volgende skakel gekry word: https://chrissteyn.lnk.to/plaasdorptoe