KYK: Polisiebeampte se seun pleit skuldig na ongeluk man se lewe eis

Lees ook :

Foto: AfriForum Privaatvervolgingseenheid

Werklike video-opname van ongeluk in berig.

NOORDWES. – Kgaugelo Masenya (19), die seun van ‘n polisiebeampte, het na amper drie jaar op aanklagte van strafbare manslag en die bestuur van ‘n motorvoertuig sonder ‘n wettige lisensie, skuldig gepleit. ‘n Verklaring van skulderkenning is in die Brits-landdroshof voorgelees.

Masenya het ‘n ongeluk gemaak, waarna Patrick Jewell (65) drie weke later gesterf het. Die saak is vir vonnisoplegging tot 26 Junie uitgestel.

Jacky Jewell, Patrick Jewell se dogter, is ten tyde van die saak deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid bygestaan.

“Ek kan nie hierdie gevoel beskryf nie. Geregtigheid het vandag vir my pa geskied. Ek is so dankbaar vir AfriForum se ondersteuning, in besonder Chris Gouws wat aangehou het om druk toe te pas. Op die ou end het my pa saak gemaak en daar is nou geregtigheid vir hom,” sê Jacky.

Nuusflits het voorheen soos volg berig:

NOORDWES. – Kgaugelo Masenya (19) het glo op 21 September 2021 die dood van Patrick Jewell (65) tydens ‘n botsing veroorsaak. Masenya het vandag vlugtig op ‘n aanklag van strafbare manslag in die Brits-landdroshof verskyn.

Barry Bateman, woordvoerder vir Afriforum se privaatvervolgingseenheid, sê Jacky, die oorledene se dogter, het die eenheid vir hulp genader omdat daar geen momentum in die saak is nie.

Masenya is die seun van ‘n polisiekaptein wat vir die polisie se beskermingsdienste werk. Die verdagte het glo op die betrokke dag sy pa se voertuig sonder ‘n lisensie vir ‘n plesierrit saam met sy vriende bestuur. Masenya het volgens ‘n video na bewering om die hoek gejaag, beheer verloor en in Jewell en sy stilstaande voertuig vasgejaag.

Jewell, wat besig was om waterbottels in sy voertuig te laai om sy vrou se graf te besoek, is beseer en na ‘n hospitaal geneem waar hy 20 dae later gesterf het. Jacky het twee maande na die ongeluk beeldmateriaal bekom en aan die ondersoekbeampte oorhandig. Dit was glo nie deur die ondersoekbeampte opgevolg nie.

Die privaatvervolgingseenheid het in Mei 2022 ‘n klagte teen die beampte ingedien. Toe daar teen Julie 2022 nog geen antwoord oor die saak was nie, het die eenheid ‘n klagte by die nasionale kantoor van die SAPD gelê. Die saak het hierna aandag geniet en die dossier is in Mei 2023 na die hof gestuur waarna daar besluit is om Masenya te vervolg.

Masenya het uiteindelik vandg in die Brits-landdroshof verskyn, waarna die saak tot 10 April uitgestel is.

Lees die volledige verklaring deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid hier onder:

Minderjarige seun van SAPD- beampte pleit skuldig op klagte van strafbare manslag

Byna drie jaar ná ’n botsing wat Patrick Jewell (65) van Brits se lewe geëis het, het die jong man wat die botsing veroorsaak het skuldig gepleit op klagtes van strafbare manslag en die bestuur van ’n voertuig sonder ’n lisensie. In ’n verklaring wat gister in die Brits-landdroshof voorgelees is, het Kgaugelo Masenya (19) volle verantwoordelikheid vir sy dade aanvaar en erken dat sy roekelose bestuur tot die botsing gelei het wat Jewell se dood veroorsaak het. Jewell, ’n geliefde pa en oupa, het byna drie weke ná die voorval gesterf.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Jewell se dogter, Jacky Jewell, wat die privaatvervolgingseenheid genader het weens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se rampsalige versuim om die saak verder te ondersoek. Die oortreder se pa is ’n kaptein in die SAPD se presidensiële beskermingseenheid. Daar word vermoed dat die SAPD se versuim om die saak te ondersoek ’n voorbeeld was van polisiebeamptes wat vir hul eie kollegas probeer skerm. Masenya was 16 jaar oud ten tyde van die insident.

Masenya het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in April genader en versoek dat sy saak op afwending geneem word eerder as om verhoor te word. Indien dit afgewend sou word, sou dit beteken dat die beskuldigde nie ’n kriminele rekord sal hê nie. Die privaatvervolgingseenheid het Jacky gehelp om dié aansoek teen te staan weens die erns van die oortreding. Masenya het skuldig gepleit ná die aanklaer die hof in kennis gestel het dat sy afwendingsaansoek afgekeur is.

Die privaatvervolgingseenheid se ondersoeker Chris Gouws was die stukrag agter die behoorlike ondersoek van hierdie saak en, asook om dit op die rol geplaas te kry vir vervolging. Gouws het ook twee diensklagtes teen SAPD-beamptes ingedien voordat die SAPD die saak ernstig begin opneem het.

Volgens Jacky het die skulderkenning ’n reuse las van haar skouers afgehaal. “Ek kan nie hierdie gevoel beskryf nie. Geregtigheid het vandag vir my pa geskied. Ek is so dankbaar vir AfriForum se ondersteuning, in besonder Chris Gouws wat aangehou het om druk toe te pas. Op die ou end het my pa saak gemaak en daar is nou geregtigheid vir hom.”

Barry Bateman, woordvoerder vir die privaatvervolgingseenheid, sê dat Masenya se besluit om skuldig te pleit die regte ding was om te doen. “Ons is tevrede dat Masenya verantwoordelikheid aanvaar het vir die dood van Patrick. Sy optrede het ’n familie sonder ’n pa en oupa gelaat, en onbeskryflike emosionele skade veroorsaak. Dit moes egter nooit drie jaar geneem het om hierdie punt te bereik nie. Jacky en haar familie het gesmag na geregtigheid, dit sou egter nooit kon geskied sonder die toetrede van die privaatvervolgingseenheid nie. Dit is nog ’n teken van ’n stelsel wat verval en die gevoellose verontagsaming van slagoffers van misdaad,” sê Bateman.

Die saak is tot 26 Junie uitgestel vir die vonnisoplegging.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief