SUID-AFRIKA. – ‘n Wit renoster wat glo meer as 1 000 km ver vervoer is, het sy misnoeë te kenne gegee nadat hy teen die einde van die rit uit ‘n sleepwa gelaat is. Nadat hy uit is, het hy woedend aan die sleepwa gestamp, voordat hy sy woede op die sleepbakkie uitgehaal het.
RC Westraadt (Choice Africa Safaris), sê in ‘n sosialemediaplasing sam met die video en foto’s van die voorval: “Privaat renostereienaars dra steeds die grootste las om die voortbestaan van renosters in Afrika te verseker. Volgens die privaat wildbedryf besit en beskerm privaat grondeienaars in Suid-Afrika tans meer witrenosters as al die ander Afrikalande saam, insluitend dié wat deur die staat besit word. Die bedryf beklemtoon dat privaat renosterbesit die sleutel is tot die toekoms van die spesie. Hierdie eienaars ontvang geen inkomste uit fondsinsamelings nie, maar hul getalle groei steeds, ten spyte van die groot koste en uitdagings wat gepaardgaan met die beskerming van die diere.”
Die organisasie Choice Africa Safaris het die eienaars as die ware beskermers van die renoster geloof en hul dapperheid om die spesie te bewaar, uitgelig.
Bronne: RC Westraadt, Kruger Magazine en Namibia Daily News





