Ricus Nel en Chris Steyn het hulle stemme saamgevoeg en pas ‘n enkelsnit genaamd, Trek Hom Plat, uitgereik.
Ricus Nel, wat reeds naam gemaak het in die musiekbedryf, en Chris Steyn, wenner van Die Kontrak, Seisoen 3, se nuwe duet word as die perfekte partytjie-klankbaan vir die Desember-vakansie beskryf.
Fanie Nel, woordvoerder vir die Coleske Groep, sê Trek Hom Plat het ‘n aansteeklike ritme en vrolike kuieringesteldheid: “Met die gesegde “trek hom plat” as inspirasie, het die twee kunstenaars hierdie liedjie geskep om lig en vol energie te wees.”
Ricus vertel: “Ek het nog altyd gedink ek en Chris het nogal baie in gemeen. Ek sien baie van hom in my toe ek jonk was. Sy rustigheid, en net wie hy is. Dis vir my lekker om iets saam met hom te doen. Dis maar net ’n lekker partytjie-liedjie waarna mense in Desember sal kan luister en wat die gemoedere sal lig.”
In die musiekvideo wat deur Eric T Graham en Tehan Buys verfilm is, word Ricus as Chris se mentor, geskoei op die rol van Mr. Miyagi van die Karate Kid, uitgebeeld.
“Die komiese element gaan oor Ricus wat vir Chris ‘n paar truuks wys oor hoe om regtig “plat te trek” en nie oor karate nie. Die video is propvol humor en beloof om kykers hard te laat lag.”
“Dit voel omtrent soos ’n volsirkel-oomblik vir my. Ek het my eerste liedjie by Afrikaans is Groot gesing
verlede jaar, en nou, ’n jaar later, het ek die voorreg om saam met een van die groot name in
Afrikaanse musiek ’n liedjie uit te bring. Dis ongelooflik! Ek het vir Ricus gevra of hy saam my die liedjie wil doen en hy het onmiddellik ja gesê. Dit was so cool dat hy ’n liedjie saam met my wil vrystel. Trek Hom Plat is ’n sokkie-ritme wat luisteraars sal aanmoedig om op te staan en saam te dans. Dit is geen diep ballade nie, maar eerder ’n liedjie wat luisteraars moet geniet as hulle saam met vriende kuier. Ek hoop die mense geniet dit vreeslik. Dit is net ’n lekkerkuier-liedjie,”sê Chris, wat die duet as ‘n hoogtepunt beskryf.
Trek Hom Plat is hier op alle stroomdienste beskikbaar.
Volg Ricus Nel en Chris Steyn op alle sosialemediaplatforms; Webblad, Facebook, Instagram, TikTok en YouTube





