KYK: Ricus Nel en Riaan Benadé stel ‘308’ vry

Lees ook :

Foto's: Fanie Nel

Video in berig.

Die gewilde sangers Ricus Nel en Riaan Benadé het hulle splinternuwe treffer 308 bekend gestel, wat as “mik in die regte rigting” beskryf word.

Fanie Nel van die Coleske Groep sê nadat die twee sangers in 2022 sukses met Haai Haai gehad het, is hulle terug met ‘n enkelsnit wat beslis die land aan die sing gaan hê. Die liedjie is volgens Nel propvol karakter, humor en ‘n unieke Afrikaanse musiekmengsel.

Ricus vertel 308 is ‘n lekker Afrikaanse country rock-liedjie , met sterk invloed van boeremusiek en ‘n skeutjie reggae vir ekstra skop: “Riaan het my genader en gesê ons moet weer iets saam doen. Ons het saam iets besonders geskep met Haai Haai en nou het hy die liedjie 308 geskryf, wat ek in my ateljee vervaardig het. Ek het ook al die instrumente opgeneem en gespeel. Die tema van die liedjie draai om die ou bekende debat: watter kaliber is die beste? Dis ’n tong-in-die-kies storie waar ons ’n bietjie lag en saam gesels oor vuurwapens en jag, maar teen die einde van die liedjie sê ek net eenvoudig dis lekker om te jag!”

Nel verduidelik die musiekvideo speel in ‘n fiktiewe jagwinkel af, waar Ricus en Riaan probeer om ’n besluitelose klant, gespeel deur Marco van Deventer, te help om die regte geweer te kies.

Riaan sê die musiekvideo waarin snaakse tonele en karakters deur hom en Ricus uitgevoer en deur Eric T Graham en Thehan Buys verfilm en vervaardig is, “is skreeusnaaks, mense gaan hierdie video met ’n groot glimlag kyk.”

308 is op alle stromingsdienste hier beskikbaar.

Ricus Nel en Riaan Benadé kan op alle sosialemediaplatforms gevolg word.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief