GAUTENG. – Vier verdagtes wat na bewering op pad was om ’n rooftog te pleeg, is Dinsdagoggend omstreeks 09:30 in ’n skietgeveg met die polisie in Randfontein, Wes-Rand, noodlottig gewond. Misdaadintelligensie in die Oos-Kaap het die polisie in Gauteng van die verdagtes se beweerde planne ingelig.
Die polisie het drie vuurwapens, waaronder ’n geweer en twee pistole, wat glo deur die verdagtes gebruik is, op die toneel gevind. Die beweerde booswigte het glo planne gehad om ‘n sakeman in Randfontein te beroof. Lede van die taktiese reaksie eenheid (TRT), die teen-bende-eenheid en Fidelity Sekuriteit is ontplooi op die roete wat die verdagtes sou gebruik.
’n Wit Toyota Starlet, met vier insittendes, wat met die beskrywing ooreenstem, is in Ventersdorpweg, Randfontein, opgemerk. Toe die polisie die voertuig probeer stop, het die verdagtes glo op die polisie begin skiet en ’n skietgeveg het gevolg. Vier verdagtes het op die toneel aan hulle skietwonde beswyk.





