Ruhan du Toit, SA se immergewilde goue stem, wat bekend is daarvoor om gemaklik tussen verskeie genres te beweeg, het Vrydag sy nuwe liedjie Ek Hou Van vrygestel.
Fanie Nel van Coleske Group sê Du Toit het sy aanhangers met die nuutste enkelsnit verras: “Dit is ’n liedjie wat die eenvoudige plesiertjies van die lewe vier en luisteraars aanmoedig om net hulself te wees.”
Ruhan sê self die liedjie het ‘n nostalgiese boeremusiek-klank en ‘n speelse stouterige aanslag: “Dis die erkenning van al die aardse goedjies waarvan ons hou, spesifiek gemik op die Suid-Afrikaner. Op die ou end hou ek die meeste van “jou” en dis vir die luisteraar om te besluit wie daardie “jou” is. Ek het al ’n rukkie so op die rand hiervan gekom met FAK en Kan ’n Man, so dit het natuurlik gevoel om nóg een van daardie uit te bring.”
Nel sê Ek Hou Van is ‘n Coleske-spanpoging met indrukwekkende name. Dis deur wyle Johan Oberholzer geskryf, die vervaardiging is deur Ruhan self behartig, waarna dit verder deur Juan “Floors” Oosthuizen en Murray Lubbe afgerond is. Agtergrondstemme is niemand anders nie as die “Grootbaas” homself – Arnold Coleske – Marco van Deventer van die groep ONS, Georic Lomas, Lisie Basson en Bella Coleske. Die stemwerk is in die Coleske-ateljee deur Paulo Azevedo en Arnold Coleske opgeneem.
Nel sê voorts in die vrygstelde musiekvideo wat deur Eric T Graham en Tehan Buys van ETC Creative op Tundavala Hunting Safaris in die Waterberge van Limpopo opgeneem is, kan nog bekende gesigte verwag word, wat Chris Steyn en sy pa Rene, Monique Steyn se man Robbie, Marco van Deventer, Georic Lomas en die baasbreine van Coleske, Arnold Coleske en Brendon Hargroves, insluit.
“Die instruksie was eenvoudig: doen wat julle sou doen op ’n lekker wegbreeknaweek vir manne, heeltemal unscripted. Dit was bloot ’n paar pêlle wat die geleentheid gehad het om vir ’n dag of twee op ’n plaas te kuier,” verduidelik Ruhan.
Nel sê met 2025 goed op dreef, is daar nog nuwe musiek met opwindende samewerkings wat van Ruhan verwag kan word en die sanger hoop Ek Hou Van sal aanklank vind om by ‘n kamp of ‘n braai gesing en geniet te word.
Ruhan verduidelik die opgewondenheid oor die snit: “Ek het soveel groot, swaar en diep liedjies, dat hierdie bietjie ligter materiaal soos ’n vars bries voel, veral tydens vertonings.” En oor wat nog te wagte kan wees, sê Ruhan geheimsinnig: “Ons sit nie stil nie.”
Ek Hou Van kan op alle digitale stroomdienste hier gekry word. Volg Ruhan du Toit op alle sosialemediaplatforms.





