[t4b-ticker]

KYK: SA-vlugtelinge op VSA-bodem, duidelikheid oor hervestigingsprogram gevra

Lees ook :

Foto: Skermgreep van video U.S. Department of State

VSA en GAUTENG. – Die eerste Afrikaner-vlugtelinge wat beweer dat hulle in Suid-Afrika vervolg word, is pas in die VSA verwelkom. DIt is in ‘n sosialemediaplasing op Facebook deur Christopher Landau, die Amerikaanse adjunkstaatssekretaris, aangekondig. “Ons staan saam met hierdie vlugtelinge, baie van hulle boere en voormalige sakelui, terwyl hulle ’n beter toekoms vir hulself en hul kinders hier in die Verenigde State bou,” lui die plasing onder meer.

Chrispin Phiri, woordvoerder vir Suid-Afrika se ministerie van internasionale betrekkinge en samewerking, sê in ‘n verklaring dat Alvin Botes, adjunkminister, Landau om duidelikheid gevra het oor die hervestigingsprogram. Ter sprake is onder meer die status van persone wat vertrek (gaan hulle asielsoekers, vlugtelinge of gewone burgers wees?) en die vraag of emigrante nie straks in hangende kriminele sake teen hulle betrokke is nie.

Die Suid-Afrikaanse regering het voorheen sy kommer uitgespreek oor berigte dat die Verenigde State reeds begin het om sogenaamde vlugtelinge uit Suid-Afrika daar te hervestig. “Ons herhaal dat die aantygings van diskriminasie ongegrond is. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens se statistieke oor plaasverwante misdade ondersteun nie die bewerings van gewelddadige misdaad teen boere in die algemeen of teen enige spesifieke ras nie,” het Phiri voorts gesê.

Al sou daar ook diskriminasie wees, het dit volgens die regering nie die vereiste vlak bereik om as vervolging bestempel te kan word nie, soos deur plaaslike en internasionale vlugtelingereg bepaal.

Volgens die internasionaal erkende definisie van vlugtelinge, soos uiteengesit in die 1951 Vlugtelingekonvensie en die 1967-Protokol, is ’n vlugteling iemand wat ’n “gegronde vrees het vir vervolging” op grond van ras, godsdiens, nasionaliteit, lidmaatskap van ’n spesifieke sosiale groep, of politieke oortuiging.

Luidens die verklaring is die hervestiging van Suid-Afrikaners onder die dekmantel van vlugtelingstatus klaarblyklik polities gemotiveerd en daarop gemik om Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie te bevraagteken.

Die regering erken eger burgers se reg op vryheid van beweging en om die land te verlaat, soos vervat in artikel 21(2) van die Grondwet, en sal niks doen om sulke emigrante te verhinder om dit te doen nie.

Phiri het dit herbevestig dat die regering toegewy bly aan konstruktiewe dialoog met die Verenigde State, gegrond op wedersydse respek vir mekaar se soewereiniteit, die oppergesag van die reg en ’n verbintenis tot die uitbou van bilaterale samewerking wat wedersyds voordelig is.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief