KYK: Sangeres tree ondanks gesondheidskrisis by Velliefees op

Lees ook :

Foto: Hendri Viljoen Scholl Photograpy

Mirandi, die geliefde sangeres van die Vaaldriehoek, het die naweek by die Velliefees op Heidelberg opgetree, ondanks ‘n ernstige gesondheidskrisis. Mirandi, wat bekend is vir haar energieke optredes en vrolike geaardheid, het ’n bloedklont op die brein gekry en moes na regte steeds in die hospitaal wees.

Sy het reeds tydens haar optrede sleg gevoel en is ná haar vertoning deur paramedici behandel. In ‘n video het Mirandi om verskoning gevra dat sy nie ná haar optrede handtekeninge of foto’s kon gee nie. Sy het verduidelik dat sy vir weke simptome ervaar het, soos drukking op haar kop, hoofpyn, eetlusverlies, gesleep van haar tong, gesuis in haar ore, prikkelrigheid van haar vel, duiseligheid en naarheid. Uiteindelik het sy besluit om dokter toe te gaan.

‘n MRI-skandering het die bloedklont op haar brein gewys wat die drukking en haar simptome veroorsaak het. Alhoewel haar dokter haar aangeraai het om nie op te tree nie, het sy tog besluit om aan haar aanhangers se verwagtinge te voldoen. Mirandi neem nou voorgeskrewe medikasie om verdere bloedklonte – wat lewensgevaarlik kan wees – te voorkom.

Chris Mörsner, haar man en bestuurder het aan Nuusflits gesê: “Dit gaan darem beter met Mirandi, sy’t in die aande erg hoofpyne. Daar is, ek dink sy’t genoem in die video, ‘n bloedklont aan die linkerkant van haar brein. Saterdag na die show was sy man down, maar die paramedici wat daar was, het haar baie goed behandel en gestabiliseer. Sy’t daai aand weer ‘n terugslag gehad en die spesialis gekontak. Hy’t genoem die medikasie moet tyd kry om sy werk te doen.”

Chris het verder bygevoeg dat Mirandi vir die res van haar lewe bloedverdunners sal moet neem om te verhoed dat nog ’n klont vorm en om te keer dat dit ‘n beroerte veroorsaak. “Ons bid en ons geloof is sterk, ons dien ‘n almagtige God.”

Nuusflits wens Mirandi spoedige beterskap toe.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App