KWAZULU-NATAL. – Altesaam 17 persone het in ‘n ongeluk in die Van Reenenspas gesterf. Volgens die voorlopige ondersoek en beeldmateriaal wat bekom is, het die minibustaxi glo beheer verloor en in die aankomende verkeersbaan trompop met die vragmotor gebots.
Volgens ‘n verklaring van die departement van vervoer en menslike nedersettings en ‘n voorlopige ondersoek deur verskeie rolspelers, het dit Maandagaand ten tyde van die ongeluk hewig gereën en was dit donker en mistig.
Die Toyota-minibustaxi met ‘n sleepwa en 18 insittendes was in die vinnige baan. Die minibus, geaffilieer by die Uncedo-taxivereniging, was onderweg van Qumbu in die Oos-Kaap, na Johannesburg. Van die 18 insittendes van die minibustaxi het slegs ‘n meisie oorleef.
Altesaam 17 insittendes, wat sewe mans, drie vroue, drie seuns en vier meisies insluit, is op die toneel dood verklaar. Hulle families is reeds in kennis gestel. Uncedo het reëlings getref vir familielede om na Ladysmith te reis om hulle geliefdes amptelik uit te ken. Die rede waarom die minibustaxi beheer verloor het, kan vermoedelik weens die reën, spoed, ‘n voertuigdefek, of bestuurdersnalatigheid wees. Die fokus van die verdere ondersoek sal op moontlike voertuigdefekte gefokus wees.
Die vragmotor, ‘n Superlink met twee sleepwaens van Pangolin Logistics, is deur N. Mbedezi (37), ‘n Zimbabwiër, ook in die vinnige baan, maar in die teenoorgestelde rigting vanaf Johannesburg na Durban, bestuur. Vrae het ontstaan oor wie hom gehelp het om van die toneel te verdwyn, omdat hy eers die eienaar van Pangolin Logistics geskakel het en toe daarna vermis geraak het.
‘n Silwerkleurige Renault Clio met twee insittendes wat van Durban onderweg was, het boonop oor die insittendes van die minibustaxi, wat uit die wrak geval het, gery. Die insittendes het egter nie beserings opgedoen nie.
Die departement het alle rolspelers op die toneel en tydens die ondersoek bedank. Medelye is aan die oorledenes se families en beterskap aan die meisie in die hospitaal uitgespreek.
Lees ook hier onder: