KWAZULU-NATAL. – Dissiplinêre stappe word in opdrag van lt.genl. Nhlanhla Mkwhanazi teen ‘n polisielid ingestel wat ‘n gemerkte polisievoertuig sonder ‘n bestuurdersdeur gery het. ‘n Video-opname van dié voorval is op ‘n Durban-Noord-hoofweg geneem.
Via Crime In SA
— SA NATIONAL TRAFFIC UPDATES (@lnnocent191535) June 2, 2025
Unroadworthy SAPS Vehicle Spotted On Durban Highway Sparks Public Outcry
A video that has recently gone viral on social media shows a visibly unroadworthy South African Police Service (SAPS) vehicle traveling on a Durban highway. The footage has sparked… pic.twitter.com/v1KKx7wzbg
Kol. Robert Netshiunda, nasionale polisiewoordvoerder, sê hoewel die video eers Maandag op sosiale media versprei is, is dit reeds Sondag geneem. Die polisievoertuig was in die Durban-Noord-polisiëringsgebied in ‘n ongeluk met ‘n minibustaxi betrokke. Die bestuurder, ’n vroulike adjudant-offisier, was in die voertuig vasgekeer en die deur moes verwyder word om haar uit die motor te bevry. Hoewel die voertuig nog in ’n rybare toestand was, moes dit volgens prosedure na die polisiekantoor teruggesleep word.
‘n Ander adjudant-offisier het egter die voertuig self na die kantoor bestuur, wat volgens Mkhwanazi sy lewe in gevaar gestel het en ook die beeld van die SAPD geskaad het. Hoewel die voertuig deur ’n ander bloulig-voertuig begelei is, wat nie op die video wys nie, moes die voertuig nie in daardie toestand bestuur word nie, het hy bygevoeg.
“Ons werk baie hard daaraan om die beeld van die polisie in KwaZulu-Natal te beskerm en doen ons bes om openbare vertroue te herwin. Die bestuur van die polisie in die provinsie sal nie toelaat dat enigiemand die beeld skade aandoen deur regulasies en prosedures te verontagsaam nie. Die lid wat die voertuig bestuur het, die offisier wat die onwettige opdrag gegee het dat die voertuig bestuur moes word en enige ander persoon wat by daardie besluit betrokke was, sal interne dissiplinêre prosesse in die gesig staar. Ons sal nooit toelaat dat iemand die positiewe impak wat die polisie maak ongedaan maak om ’n veilige omgewing vir alle mense in KwaZulu-Natal te skep nie,” het Mkhwanazi gesê.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





