GAUTENG. – Tossie Gouws van Ons Tuis Riviera in Pretoria vier vandag haar 103de verjaardag op Valentynsdag.
Volgens Daleen Gouws, die woordvoerder van Ons Tuis-tehuise, het tannie Tossie, soos almal die besondere bejaarde dame ken, in 2021 ‘n spesiale gelukwensing vir haar 100ste verjaardag van president Cyril Ramaphosa gekry. Hierdie gelukwensing pryk teen haar kamermuur.
Op Nuusflits se vraag wat die geheim van ‘n lang lewe en raad aan jong mense is, was die antwoord maklik: “Jy moet net die Here dien en vir Jesus lewe en ‘n mooi lewe leef.”
Alhoewel sy ‘n slimkop was, het sy nie ‘n geleentheid gehad om verder te studeer nie, maar selfstudie en harde werk het haar gedryf. Met trots kan sy vertel een van haar kinders kon op die ouderdom van 14 jaar reeds matrikuleer.
Tannie Tossie het twee eggenote oorleef en het 15 kleinkinders, 23 agterkleinkinders en ses agterkleinkinders as nasate.
Gouws vertel van tannie Tossie se kleurryke lewe en sê sy is gebore in ‘n tyd toe die Unie van Suid-Afrika deur die Britse monarg as staatshoof regeer is. Hierdie besondere dame het dus verskeie historiese en tegnologiese veranderinge en mylpale in haar lang lewe ervaar. Tannie Tossie het mylpale soos die onafhanklikheid van Suid-Afrika se buurlande, die eerste suksesvolle hartoorplanting deur dr. Chris Barnard, en die uitvinding van vele gebruiksartikels waarsonder ons die lewe vandag nie kan indink nie, beleef.
Wat kan meer spesiaal wees as toe Afrikaans as tweede amptelike taal erken is toe sy maar net vier jaar oud was?
“Om te dink dat ek gebore is tydens die Spaanse griepepidemie en nou ‘n soortgelyke wêreldwye pandemie vir die tweede keer beleef!” het die merkwaardige vrou gesê toe sy gedurende die Covid-19-pandemie en inperkings 100 jaar oud geword het.
“Ledig was sy beslis nie! Op haar dag was sy ‘n vernuftige sakevrou wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Haar pragtige naaldwerk is tot vir prinses Anne in die koningshuis gestuur! Sy was ‘n bobaas bakster en kok, sy het ook self blomme geplant met ‘n planter, sy en haar man het hul eie meubelwinkel besit en sy was streeksbestuurder vir die meubelgroep Russels. Selfs ná haar aftrede het Russels wéér vir haar ‘n pos aangebied,” spog sr. Sonja Stander van Ons Tuis Riviera in Pretoria in 2021 oor tannie Tossie.
“My boodskap aan elke Suid-Afrikaner is: bly nuuskierig, werk hard, en wees verdraagsaam,” is tannie Tossie se raad.

Bron: Daleen Gouws Ons Tuis-tehuise
Volg Nuusflits se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.





