DAR-ES-SALAAM, TANZANIË. – Vyf hidroëlektriese kragstasies is Woensdag in Tanzanië afgeskakel om oorbodige krag op die nasionale netwerk te verminder.
Volgens Kassim Majaliwa, eerste minister van Tanzanië, het die hoofkragstasie, Mwalimu Nyerere, al genoeg elektrisiteit gegenereer om groot stede wat Dar-es-Salaam insluit, van krag te voorsien.
Die kragstasie se reservoir is vol as gevolg van hoë reënvalvlakke vroeër vanjaar.
’n Woordvoerder van die regering se elektrisiteitsmaatskappy sê die aanvraag na krag is op die oomblik baie minder as die hoeveelheid wat hulle beskikbaar het.
Tanzanië het in die verlede gereeld gebuk gegaan onder kragonderbrekings, dus word die afskakeling van die kragstasies as ’n geskiedkundige keerpunt gesien.
Bronne: The African Exponent, People’s Gazette, X