OOS-KAAP. – Timothy Oluseun Omotso, ‘n Nigeriese televangelis, verskyn vandag (Maandag) in die hof nadat hy Saterdag oor sy immigrasiestatus in Oos-Londen in hegtenis geneem is. Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, het die inhegtenisneming bevestig.
Die departement van binnelandse sake sê in ‘n verklaring Omotso is tydens ‘n polisie-operasie in hegtenis geneem. Die arrestasie volg nadat die minister van binnelandse sake Omotso se aansoek om die departement se vroeëre besluit om hom as ’n verbode persoon te verklaar, te laat omkeer, ingevolge artikel 8(7) van die immigrasiewet verwerp het. Omotoso het sy status as ’n verbode persoon in die hof betwis, waarna die hof beslis het dat die aangeleentheid vir heroorweging na die departement van binnelandse sake terugverwys moet word. Ná deeglike heroorweging het die minister die oorspronklike besluit gehandhaaf.
Volgens die minister se besluit is Omotoso nou onwettig in die Republiek van Suid-Afrika en dus onderhewig aan deportasie.
“Om voldoening aan die wette van die Republiek te verseker, sal Omotoso op Maandag 12 Mei 2025 op aanklagte van oortreding van die bepalings van die Immigrasiewet in die hof verskyn,” het die departement van binnelandse sake gesê. Die departement het benadruk dat dit sonder vrees of begunstiging verbind bly tot die handhawing van die oppergesag van die reg.
Omotoso is in April, na ‘n agt jaar lange verhoor, op aanklagte van verkragting, mensehandel en seksuele aanranding kwytgeskeld.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com





