WES-KAAP. – Gareth Webster was van strafbare manslag beskuldig in die ongeluk waartydens Danielle van Jaarsveld op 6 November 2022 gesterf het. AfriForum sê ten spyte van oorweldigende bewyse is die saak teen Webster teruggetrek.
“Die saak is nog nie weer op die rol geplaas nie.”
Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die saak van strafbare manslag is teruggetrek nadat die polisie versuim het om die noodlottige botsing forensies te ondersoek.
Desiree Keating, suster van Van Jaarsveld, wat na die ongeluk gesterf het, het die privaatvervolginseenheid genader om haar in die saak te verteenwoordig.
Op die betrokke dag het Webster na bewering met sy werkgewer, Audi Centre George, se Audi SQ5 teen ‘n hoë spoed teen Van Jaarsveld se Kia gebots. Die ongeluk, wat deur George-polisie ondersoek word, het nie ver nie van die Sedge Link-gholfbaan in Sedgefield, in Swartvlei-kusweg, plaasgevind.
Van Jaarsveld en Monique van Zyl, haar skoonsuster, was onderweg strand toe. Webster en sy passasier het ‘n gholfdag bygewoon. In die beeldmateriaal hierbo kan gesien word hoe die Kia tydens impak na agter, van waar dit vandaan kom, terugskiet. Die Kia het daarna gerol.
Van Jaarsveld het onderweg na die hospitaal gesterf en Van Zyl was ernstig beseer. Webster en sy passasier het geringe beserings opgedoen.
Op 3 Oktober 2023 het Webster op ‘n aanklag van strafbare manslag in die hof verskyn. Die saak is voorlopig op 13 Maart teruggetrek. Bateman sê dit het gebeur omdat die saak vele kere uitgestel is, omdat die polisie nie ‘n forensiese verslag kon voltooi nie. Die familie van die oorledene is ingelig die beeldmateriaal van die ongeluk en ooggetuieverklarings was nie by die dossier ingesluit nie.
Bateman is van mening daar is genoegsame bewyse om Webster te vervolg. Die privaatvervolgingseenheid het ‘n brief van kommer, omdat die saak onnodig sloer, aan die NVG gerig.
“Die polisie se onvermoë om ’n ongeluksverslag te voltooi, gevolg deur die terugtrekking van die strafbaremanslagsaak teen Webster, is net nóg ’n voorbeeld van die staat se lustelose houding vir die erns van die oortreding en die implikasies van hierdie vertragings op Danielle se familie.”
Keating, die oorledene se suster, sê volgens Bateman die SAPD het klaaglik misluk om die voorval behoorlik te ondersoek. Dít en die voortslepende vertragings het hulle genoop om die privaatvervolgingseenheid vir hulp te nader.
“Ons familie is werklik bedroef en gefrustreerd oor die slakkepas waarteen die SAPD my suster, Danielle, se saak hanteer, asook hulle houding jeens die ondersoek.”
“Dit is vir ons kommerwekkend om hulle skynbare vooroordeel en toegeeflikheid teenoor die beskuldigde te aanskou. Al wat ons familie wil hê, is dat geregtigheid vir Danielle moet geskied. Ons weet dat daar ooggetuies, beeldmateriaal en die voertuie self is wat duidelik dui op Webster se beweerde oortreding. Ons het al male sonder tal ons kommer oor die tekortkominge met die ondersoek uitgespreek, veral oor die forensiese verslae. Dit is ontmoedigend om te weet dat die beskuldigde steeds op vrye voet is, die oorweldigende bewyse teen hom ten spyt.”
Sers. Christopher Spies sê die ondersoek van die saak duur steeds voort. Die ondersoek is in ‘n gevorderde stadium. Wanneer uitstaande dokumentasie ontvang is, sal die dossier aan die NVG oorhandig word. Die ondersoek is sensitief van aard en kan nie bespreek word nie, aangesien dit die ondersoek kan belemmer.

Gareth Webster: Foto AfriForum-privaatvervolgingseenheid

Bron: Barry Bateman, woordvoerder, AfriForum-privaatvervolgingseenheid