WES-KAAP. – Brinn Chivell (16) en sy vriend Jared van Heerden het onlangs ‘n pa en sy jong dogter wat in die see by Victoriabaai in die moeilikheid was, met ‘n pienk boei van die NSRI gered.
Volgens die NSRI was die pa en sy dogter in ‘n skeurstroom vasgevang. Danksy die jongelinge se lewensredderopleiding het hulle dadelik tot aksie oorgegaan en beide, ten spyte van moeilike seetoestande, gered.
“Hul optrede herinner ons aan die kritieke belangrikheid van waterveiligheidsopvoeding en die lewensreddende impak van inisiatiewe soos die Pink Rescue Buoy-program.”
Fish Hoek Surf Lifesaving Club het Chivell en Van Heerden, hulle lewensredders, bedank en met die redding gelukgewens. Die jong dogter het om hulp geroep, waarna Chivell haar met behulp van die reddingsboei te hulp gesnel het. Haar pa het haar ook probeer help en self in die moeilikheid beland, waarna Van Heerden hom gehelp het.
“Ons wil graag ons seuns bedank vir hul waaksaamheid, diens en dapperheid tydens die vakansie. Ons bars van trots vir ons Vishoek-familie wat gemeenskappe regoor Suid-Afrika veilig hou.”
Videokrediet: Dani Downes





