Gunmen opened fire on @JoburgMPD officers in Mooi Street, JHB. #CrimeWatch pic.twitter.com/L346eKCESl
— Yusuf Abramjee (@Abramjee) March 23, 2024
JOHANNESBURG, GAUTENG. – Daar word gesoek na verdagtes wat Saterdag by die BP-vulstasie in Mooistraat op lede van die Johannesburg-metropolisiedepartement (JMPD) in ‘n voertuig geskiet het.
Supt. Xolani Fihla, woordvoerder vir die JMPD, sê ‘n beampte is tydens die skietvoorval beseer.
Na bewering was die lede by die Carlton-sentrum op patrollie toe ‘n gemeenskapslid hulle glo van ‘n verdagte Toyota Quatum-minibus in kennis gestel het. Die verdagtes is na bewering vir rooftogte van slagoffers in die sentrale besigheidsdistrik verantwoordelik. Hulle was glo ook in ‘n sakeroof op die hoek van Commissioner en Von Brandisstraat betrokke waar selfone van werkers en kliënte geroof is.
JMPD-beamptes het die verdagte voertuig opgemerk en aangedui dit moet stop, waarna die minibus by die vulstasie ingetrek het. Die verdagtes, soos in die video gesien kan word, het uit die minibus geklim en met ‘n geweer op die beamptes in die voertuig losgebrand.
Die beseerde metrobeampte is deur skrapnel van die geweervuur in die linkerskouer getref en is met geringe beserings na Milpark-hospitaal geneem waar hy behandel en ontslaan is.
Fihla sê die JMPD veroordeel die geweld teen beamptes ten sterkste. Die verdagtes word gesoek en enigiemand met inligting word versoek om dit by die polisie aan te meld.






