GAUTENG. – Vier verdagtes is Donderdagmiddag op die R55 in Centurion tydens ’n skietgeveg met die polisie dood.
Brig. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring inligting is ontvang oor huisroofverdagtes wat die voorstede Tshwane-Suid en Johannesburg-Noord teister. Die Gauteng-snelwegpatrollie, saam met ‘n veiligheidsmaatskappy, het omstreeks 15:00 ’n voertuig opgespoor wat aan die beskrywing van die huisroofverdagtes voldoen.
Die verdagtes het probeer vlug, met die polisie agter hulle aan. Ondersteuning van die Gauteng-verkeerslugvleuel is ontbied. Die verdagtes het die N14-oprit in die rigting van Pretoria geneem, met die polisie wat nader beweeg het en die verdagtes wat op hulle geskiet het. Die polisie het teruggeskiet, waartydens die verdagtes dood is.
Drie handwapens, ammunisie en huisbraaktoerusting is in die voertuig gevind, wat met vals nommerplate toegerus was. Die verdagtes word aan 18 huisrooftogte gekoppel.
Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat en forensie misdaadtoneelbestuur was op die toneel.





