GAUTENG. – Xoani Kunene is vroegoggend op 13 Augustus 2022 in Midrand buite ‘n kompleks doodgeskiet. Buhle Lebohang Mabaso word van die moord verdink. Hy het glo aangebied om vir strafbare manslag skuldig te pleit.
In beeldmateriaal kan gesien word hoe die misdaad koelbloedig gepleeg word.
Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die vermeende skieter het ‘n poging aangewend om skuldigbevinding te ontduik.
Kunene se familie het die eenheid genader om hulle te verteenwoordig. Na twee jaar voel die familie is daar nog nie beduidende vordering in die saak nie. Mabaso het R500 000 aan Kunene se familie aangebied. Hy sou dan op strafbare manslag skuldig pleit en slegs ‘n opgeskorte vonnis ontvang. Die aanbod is van die hand gewys. Hulle sukkel glo om enige terugvoering van die NVG te kry.
“Dit is vir ons kommerwekkend dat die beskuldigde toegelaat was om die ondersoekbeampte te vra om ons te nooi om vergoeding te bespreek. Maar die aanklaer reageer nie op enige van ons e-posse en bekommernisse as ’n familie nie. Ons weet nie wat hulle strategie is nie,” sê Kunene se suster.
“Nadat ons die beeldmateriaal van die insident onder oë gehad het, sien ons moord as die enigste klag waarop die beskuldigde moet pleit. Ons sal die saak noukeurig monitor om te verseker dat alle bewyse, insluitend die beeldmateriaal, aan die hof voorgelê word,” sê Bateman.
Die saak kom weer op 29 Julie voor.
Lees die privaatvervolgingseenheid se volledige verklaring hier onder:
Vermeende skieter poog om skuldigbevinding te ontduik – AfriForum-privaatvervolgingseenheid gryp in
Die familie van die vermoorde Xolani Kunene het AfriForum se privaatvervolgingseenheid om hulp genader ná die ondersoekbeampte en aanklaer hulle na bewering probeer oortuig het om ’n pleitooreenkoms te aanvaar. Buhle Lebohang Mabaso word daarvan beskuldig dat hy Kunene in die vroeë oggendure op 13 Augustus 2022 buite ’n behuisingskompleks in Midrand vermoor het.
Byna twee jaar later het Kunene se familie alle vertroue verloor dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) die vermoëns het om geregtigheid vir Kunene te verseker weens hulle gebrekkige terugvoer oor die vordering van die saak. Dit is ook onduidelik of kritieke bewyse by die dossier ingesluit is.
Beeldmateriaal van die insident wys hoe twee mans in ’n voertuig sit, die bestuurder haal dan ’n vuurwapen uit en skiet sy passasier verskeie kere. Terwyl die man bewegingloos op die grond lê loop die bestuurder om die voertuig en skiet die man in die kop voor hy dan in die voertuig vlug. Kunene, ’n pa van twee, is op die toneel dood. Mabaso is ure later gearresteer toe hy na bewering probeer het om uit Gauteng te vlug. Hy is ’n week later borg toegestaan.
Kunene se vrou, Nosipho Nombela, en sy suster, Sindisiwe Mhlongo, sê dat die ondersoekbeampte en die aanklaer hulle deur die loop van die ondersoek probeer oortuig het om Mabaso se aanbod te aanvaar. Mabaso sou volgens die ooreenkoms R500 000 vergoeding aan Kunene se familie betaal, in ruil daarvoor sou Mabaso skuldig pleit op strafbare manslag en ’n opgeskorte vonnis kry. Kunene se familie het die aanbod van die hand gewys.
In April 2023 het Mhlongo uit frustrasie en ’n gebrek aan kommunikasie oor die stand van sake, verskeie NVG-amptenare genader, insluitend ’n Gauteng adjunk-direkteur van openbare vervolging. Ten spyte van hul beloftes om terugvoer te verskaf was dit die laaste wat sy van die senior NVG-amptenare gehoor het.
Mhlongo sê dat sy en haar familie in die donker gelaat is. “Dit is vir ons kommerwekkend dat die beskuldigde toegelaat was om die ondersoekbeampte te vra om ons te nooi om vergoeding te bespreek. Maar die aanklaer reageer nie op enige van ons e-posse en bekommernisse as ’n familie nie. Ons weet nie wat hulle strategie is nie.”
“Dis hoekom ek AfriForum genader het, hulle het al naam gemaak as ’n organisasie wat sal opstaan vir Suid-Afrikaners en hulle was letterlik die enigste mense wat uitgereik het toe ek die storie op sosiale media gedeel het. Hulle het na ons geluister en ons saak ernstig opgeneem al was my broer nie bekend nie,” sluit Mhlongo af.
Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê dat aanklaers ’n verantwoordelikheid het teenoor families en geliefdes van misdaadslagoffers. “Die NVG se versuim om behoorlik met die familie te kommunikeer bewys dat hulle sogenaamde strategie om slagoffer-gefokus te wees slegs lippediens is, dit skep ook ’n geleentheid om hulle optrede te bevraagteken. Nadat ons die beeldmateriaal van die insident onder oë gehad het sien ons moord as die enigste klag waarop die beskuldigde moet pleit. Ons sal die saak noukeurig moniteer om te verseker dat alle bewyse, insluitend die beeldmateriaal, aan die hof voorgelê word,” sê Bateman.
Die saak is tot 29 Julie uitgestel.

