Foto’s en video in berig.
KWAZULU-NATAL. – Anastasia Shabalala en Lona Madlala, ‘n gr. 12-leerling, het Saterdag gesterf toe die voertuig wat deur Shabalala bestuur is, agteruitbeweeg en oor ‘n krans ongeveer 800 meter na benede gestort het. Die voorval het in KwaSwayimane, buite Pietermaritzburg, plaasgevind.
Ndabezinhle Sibiya, woordvoerder vir die departement van vervoer en menslike nedersettigs, sê dit is nog onduidelik wat veroorsaak het dat die voertuig agteruitbeweeg het. Shabalala was ‘n enkelouer wat verlede jaar die voertuig as ‘n geskenk van haar kinders ontvang het. Albei vroue is in die voertuig aan die onderkant van die krans aangetref en is op die toneel dood verklaar.
Siboniso Duma, die LUR vir die departement, het die afsterwe bevestig. Hy het Mbali Msomi, ’n plaaslike onderwyseres, vir haar vinnige optrede bedank om Ayanda Msweli, verkeersbeampte, in kennis te stel, waarna ’n helikopter-reddingseenheid ontbied is. Dank is ook teenoor ds. Xaba en pastoor Vidima vir hul ondersteuning aan die families op die toneel uitgespreek.
Die LUR het voorts maatskaplike werkers gereël om professionele berading aan die betrokke gesinne te bied.










