OOS-KAAP, SUID-AFRIKA. – Nagenoeg 200 klassieke motors wat in oorlede motorversamelaar, Louis Coetzer, se skuur op grond naby Barkley-Oos ontdek is, sal op 25 Maart 2024 op ’n aanlyn veiling opgeveil word.
Louis en sy vrou, Hermien, het op 15 Januarie 2020 op ’n 4X4-roete verongeluk toe hulle motor by ’n krans in die Naudésnek-pas afgetuimel het. Hy het vermoedelik ’n hartaanval gehad.
Die egpaar se kinders was in die proses om bates, waaronder ’n stuk grond naby Barkley-Oos, te verkoop toe hulle op die vonds in die skuur afgekom het.
Volgens Joff van Reenen, hoof-opveiler van Creative Rides Classic & Collectibles Auctions, is daar nog motors op nabygeleë grond ontdek. “Versamelaars het van sommige van die motors nog nie eers gehoor nie, aangesien dit nog nooit vir die publiek vertoon is nie.”
Die vonds bring Coetzer se totale versameling tot op meer as 600 motors te staan. Hy word dus as die grootste individuele motorversamelaar in Suid-Afrika gesien.
Sy eerste versameling motors is in Desember 2020 opgeveil. Belangstellendes kan die Creative Rides-webtuiste besoek vir meer inligting oor die aanlyn veilig wat vanaf 25 Maart tot 3 April sal duur.
Creative Rides het die volgende video gedeel:
Bronne: Turning Points Magazine, Sandton Times, The South African, YouTube





