KYK: Vrou in kritieke toestand lei Moslem-paramedikus na Jesus in ambulans

Lees ook :

Deur LiG-redaksie

Toe Frankie Loftus met ’n rare siekte gediagnoseer is wat haar breinvaatjies aangetas het, het sy nie wanhoop ervaar nie. God het haar met sy vrede en vreugde kom aanraak. Soveel so dat sy in ’n kritieke oomblik in die ambulans ’n Moslem-paramedikus na Jesus gelei het.

Sowat vier jaar gelede het Frankie erge hoofpyne en probleme met haar sig ervaar. Maar een nag het die pyn só erg geword dat sy besluit het om dokter toe te gaan. Ná verskeie toetse is daar vasgestel dat sy ’n mini-beroerte gehad het, maar dokters kon nie haar toestand ten volle verklaar nie.

Frankie onthou die vrees en onsekerheid wat daarop gevolg het. Sy is in die Paarl Medi-Clinic opgeneem, maar die dokters kon steeds nie ’n duidelike diagnose maak nie. Wat dinge vererger het, is dat dit in Covid-tyd was wat beteken het dat niemand vir Frankie kon kom kuier of haar ondersteun nie. “In daardie eensame oomblikke wou ek alle hoop verloor, maar dan het God gekom en was Hy net daar,” sê Frankie.

Soos haar toestand versleg het, het hulle een nag 12 uur haar man Neels gebel omdat hulle nie gedink het sy sou die nag oorleef nie.

Die ambulansontmoeting

’n Neuroloog van Panorama-hospitaal het na Frankie se breinskanderings gekyk en gesê sy moet onmiddellik na hom gehaas word. En hoewel sy werklik siek was en niks kon onthou nie was daar één ding waarvan sy seker was: “God het my in daardie tyd met vrede en joy kom inspuit.”

Sy het in ’n ambulans saam met ’n paramedikus genaamd Shafik beland. Ten spyte van haar toestand, het sy ’n oorweldigende gevoel van vrede en vreugde ervaar – ’n oomblik wat sy later as goddelik beskryf het.

Shafik het haar oor haar lewe begin uitvra, en Frankie het begin getuig van die wonderwerke wat sy ervaar het, insluitend die bonatuurlike geboorte van haar tweede kind. Toe sy vir Shafik vra of hy ooit bang is en of hy ooit na gevaarlike plekke vir sy werk moet gaan, het hy “ja” geantwoord. “Nadat God my met hierdie vrede en vreugde ingespuit het, was my selfbewustheid baie laag. Maar my bewustheid van die hemel en God was oorweldigend. So terwyl ek met hom gepraat het, was ek net bewus van hierdie mens voor my vir wie Jesus gesterf het en vir wie Hy lief is,” vertel Frankie.

Skielik het sy ervaar dat sy vir Shafik moes vra of hy God persoonlik ken. Hy het nee gesê en verduidelik dat sy geloof as Moslem daarop fokus om goeie dade te doen, want dít sal vir jou die ewige lewe verseker. Dit het die deur oopgemaak vir Frankie om die boodskap van Jesus met hom te deel.

God kom ontmoet Shafik

Terwyl Frankie aan Shafik probeer verduidelik het wie Jesus is het sy die teenwoordigheid van God in die ambulans ervaar. Shafik het aandagtig geluister, en toe sy hom vra of hy Jesus wou ontmoet, het hy ingestem. Frankie het vir hom gebid, en in daardie oomblik het Shafik ’n openbaring gehad wat alles vir hom verander het.

Later het Frankie hom gevra of hy Jesus ontmoet het, en hy het eenvoudig geantwoord: “Ja, ek het Jesus ontmoet.”

Ná Frankie uiteindelik met ’n rare breinsiekte gediagnoseer is, wat haar breinvaatjies aangetas het moes sy chemoterapie kry. Sy het fisieke en emosionele uitdagings in die gesig gestaar, insluitend geheueverlies en die onvermoë om te lees. Tog het sy aan haar geloof vasgehou en krag gevind in die Woord, veral Jakobus 1:2-4 wat sê dat ons vreugde moet vind in beproewings.

Meer van God

Deur haar siekte het Frankie geleer dat daar in elke beproewing ’n gawe lê. Sy het ontdek dat lyding haar nader aan God gebring het en haar in staat gestel het om sy teenwoordigheid op ’n dieper manier te ervaar. In die maande van herstel en behandeling wat gewag het, het God in die moeilikste tyd van haar lewe vir haar meer van Hom kom leer.

Ná agt maande se behandeling is sy genees verklaar – ’n ware wonderwerk waarvoor sy God vandag nog prys.

Selfs ná haar herstel het Frankie steeds uitdagings gehad, soos die nagevolge van haar siekte. Maar, vertel sy, “God se genade is genoeg in moeilike tye.”


LiG is meer as net ’n tydskrif

God is voortdurend besig om die mooiste stories van hoop te skryf – jóú ondersteuning help ons om dit te deel. Hoe meer ondersteuning ons kry, hoe groter kan ons getuienisvoetspoor en impak wees. As jou inspirasievennoot bied ons Christelike inhoud en getuienisse vir elke tree van jou geloofreis.

Jou donasie help ons om meer getuienisse te vertel en dit meer toeganklik te maak. Sodoende kan ons lig bring daar waar donkerte en moedeloosheid is.

Word deel van die getuienis – hier kan jy LiG vandag ondersteun.


Nuusflits publiseer advertensies en geborgde inhoud vir bemarkingsdoeleindes. Die sienings en aansprake wat in advertensies geuiter word, weerspieël nie die standpunte van Nuusflits, sy redaksie, of enige van sy affiliasies nie.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief