KWAZULU-NATAL. – ’n Egpaar van Ladysmith, Surendranath Maharaj (74) en Anitha Devi Maharaj (67), is as vermis aangemeld ná kitsvloede en modderstortings naby die Nepal-Tibet-grens. Minstens ses Suid-Afrikaners is tans vermis.
Volgens Missing Person South Africa, sê die egpaar se familie hulle was op die Kailash Mansarovar-pelgrimsroete naby Gyirong toe die ramp op 26 Augustus toegeslaan het. Daar kon sedertdien nie kontak met hulle gemaak word nie. Die soektog na hulle is dringend, aangesien Anitha, wat diabetes het, insulien benodig. Soek-en-reddingspogings duur voort in die gebied, waar paaie, gemeenskappe en reisroetes deur die vloede en modderstortings geraak is.
Die familie versoek dat onbevestigde berigte of bespiegelings nie op sosiale media versprei word nie. Enigiemand met betroubare inligting oor die egpaar word gevra om Anashnee en Emile Domun by +27 82 559 0164 of Preena Maharaj by +49 152 5588 4874 te kontak.
Volgens IOL, wat met Suid-Afrika se hoëkommissaris in Indië, Anil Sooklal, gepraat het, is ses Suid-Afrikaners as vermis aangemeld ná die vloede en modderstortings naby die Nepal-Tibet-grens. Die vermistes is Surendranath Maharaj (74) en Anitha Devi Maharaj (67) van Ladysmith, Vivaganathan Pillay (66) en Janet Pillay (56) van Ladysmith, Bavika Ramjee (43) van Oos-Londen en Terricia Govender (33) van Isipingo Beach.