WES-KAAP. – Gcinithemba Bheja en Fundile Maseti, lede van die sogenaamde Gupta-bende, is deur die hooggeregshof tot sewe keer tronkstraf en 45 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis. Die vonnis spruit uit ‘n bloedbad waartydens hulle vier jaar gelede sewe persone vermoor het.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê die twee het vier jaar gelede in Khayelitsha vir Ntandazo “Ntera” Makhetha, Thembelani Sihlali, Akhona Cuba, Lisa Kalpens, Bongani Lonert Stiwa, Tabita Mgidlana en Monwabisi Nolusu doodgeskiet. Hulle is ook vir poging tot moord op Sipho Mtshikwe, Minentle Simanga en Abongile Mbi, asook vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie, gevonnis.
Bheja en Maseti is vir elke moord lewenslank gevonnis en verder vyf jaar direkte tronkstraf vir poging tot moord en 15 jaar direk vir die onwettige besit van die vuurwapen en ammunisie. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word en hulle is onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Lede van die bende is selfs na die Oos-Kaap toe om ‘n getuie wat in getuiebeskerming was, te soek.
Op die betrokke aand van 7 Maart 2020 het Ntera ‘n verjaardagpartytjie by sy huis in Sihawustraat (Seksie Q) gehou. Ntera en die twee beskuldigdes het van die Boko Haram-bende weggebreek en was deel van die Gupta-bende. Die bende het besighede, hoofsaaklik dié van Somaliërs, vir beskermingsfooie geteiken. Indien betaling nie gemaak is nie, het die besigheidseienaar gesterf of die besigheid is beroof. Spanning oor grondgebied was in Seksie Y en Seksie Q aan die toeneem.
Die getuie het in die hof gesê Ntera was haastig onderweg na sy huis, waar die partytjie gehou was. Hy en sy twee vriende het hom raakgeloop. Hy het bloed by Ntera se ribbekas opgemerk en hy het ‘n vuurwapen gedra. Ntera sou hom die volgende oggend vertel wat aangaan. Hulle het hom gehelp om oor ‘n muur by die huis te spring. Kort daarna het ‘n voertuig voor die huis stilgehou. Vier gewapende mans, met verskillende kalibers vuurwapens, het op die huis geskiet. Daarna het hulle binne die huis en op die erf geskiet. Terwyl hulle agteruit na die voertuig beweeg het, het hulle aanhoudend bly skiet.
Nog ‘n getuie het gesê Ntera se dogter (6) is getref en een van die skieters het haar geskop.
Die getuie in beskerming het gesê terwyl die polisie verklarings op die toneel afgeneem het, het twee van die skieters, wat hy baie goed ken, op die toneel rondgestaan en na die verklarings geluister. Een het selfs die sperband verbygegaan om te kan hoor. Lt.kol. Nceba Mathentamo het aan die hof voorgehou die gemeenskap was bevrees en niemand wou saam met die polisie gesien word nie. Van die getuies het inligting weerhou, daarom moes die polisie op ‘n enkele getuie staatmaak.
Regter Daniel Thulare het in vonnisoplegging gesê die beskuldigdes het geen berou getoon nie. Hulle het ook geen gewete vir die pyn van die oorledenes, beseerdes of diegene in die gemeenskap wat in vrees moes leef nie. Hulle was ongevoellig op die manier hoe hulle meer as een lewe geneem het, dit alles uit hebsug.
“The circumstances surrounding the multiple killings of innocent partygoers simply to send a message to a competing gangster who used to be their friend and partner in crime that they will not tolerate any betrayal and disturbance of their territory for extortion is alarming. Whilst extortion has become fashionable and a few members of the SAPS in Khayelitsha have become partners in that criminal enterprise, the conviction and sentence in this matter gave hope that with the help of community members like Mr X, the industry of the Anti-Gang Unit members and other members of the SAPS who are not moved by corruption and other role players like fearless members of the National Prosecuting Authority, South African was on its path to win the battle.”
Adv. Nicolette Bell, die direkteur van openbare vervolging in die provinsie, het die vonnisoplegging verwelkom.