MOKWAKWAILA, LIMPOPO. – ’n Leerder (18) is die naweek in hegtenis geneem vir die beweerde verkragting van ‘n mede-leerder (14). Die voorval het glo Saterdagnag plaasgevind.
Volgens inligting het die slagoffer se ma en ’n man vanuit die gemeenskap na die 14-jarige gaan soek nadat sy nie die aand terug huis toe gekeer het nie. Hulle het na bewering bloedstollende gille vanuit ’n huis gehoor. Die ma het deur die venster geloer en die verdagte glo naak bo-op haar histeriese dogter sien lê.
Die verdagte het op vlug geslaan. Volgens die slagoffer het sy na bewering die verdagte langs die pad ontmoet, waarna hy haar na sy huis gesleep, aangerand en herhaaldelik verkrag het.
Na ’n soektog is die verdagte kort na die voorval in hegtenis geneem.
Lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale kommissaris, het haar skok oor die insident uitgespreek. Die verdagte sal na verwagting binnekort in die Bolobedu-landdroshof verskyn.
Bronne: SAPD, Twitter





