OOS-KAAP. – Twee seuns (13) is Donderdagaand omstreeks 18:30 by Matafeni Junior Secondary School in Lusikisiki, deur die veiligheidswag aan diens, onderskeidelik doodgeskiet en gewond.
Kol. Priscilla Naidu sê die seuns was deel van ‘n groep van ongeveer sewe wat glo die skoolperseel betree het om toegang tot die skool se Wi-Fi te verkry. Hulle is na bewering deur die veiligheidswag uitgevang en het begin hardloop. Die veiligheidswag het glo op hulle geskiet en die twee seuns getref. Een is op die toneel dood verklaar, terwyl die ander met ‘n skietwond na ‘n hospitaal geneem is.
Naidu sê die veiligheidswag het van die toneel gevlug, maar is dieselfde aand in hegtenis geneem. Hy word aangekla van moord, poging tot moord, besit van ‘n onwettige vuurwapen, waarvan die reeksnommer afgevyl is, asook die onwettige besit van ammunisie.
Die veiligheidswag sal Maandag in die Lusikisiki-landdroshof verskyn.





