VRYSTAAT. – Dwelms wat verdagtes besig was om in ‘n woonstel in Brandwag naby Bloemfontein te verpak en glo vir skoolleerders en studente bedoel was, is Woensdagoggend deur die polisie onderskep.
Lt.kol. Thabo Covane sê die dwelms was glo vir geïdentifiseerde skole in Harrisstraat, Victioriastraat, Willows en instellings vir hoër onderrig in President Brandstraat en Nelson Mandelarylaan bedoel.
Covane sê Mangaung-metropolisie se taktiese reaksie-eenheid het inligting van die dwelmhandelaar in White Flats in Brandwag naby Bloemfontein ontvang. Observasie is gehou en omstreeks 01:30 is op die woonstel toegeslaan. Tydens die deursoeking van die woonstel het die polisie op ‘n 9 mm Z88-pistool en lewendige ammunisie tussen matrasse van die verdagte (21) afgekom. Die woonstel is vir die voorbereiding, verpakking en berging van dagga voor verspreiding gebruik.
Dagga in verskeie tipes verpakkings met ‘n geskatte straatwaarde van R1.5 m. is gekonfiskeer. Geld en Khokha-kaartmasjiene is ook gevind en as bewysstukke gekonfiskeer.
Vier verdagtes, oorspronklik van Bloemfontein, Botshabelo en Thaba Nchu, is in hegtenis geneem.
Parkweg-polisiestasie het ‘n saak van handel in dwelms geopen.
“Die verdagtes word in polisie-aanhouding aangehou en sal binnekort in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.”





