GAUTENG. – Siphamandla Peterson (15) en Sibusiso Sibiya (17) het op 15 April by Rock Falls Adventure Ranch in Centurion verdrink. Die verslag van die ondersoek na hul dood word Dinsdag beskikbaar gestel.
Steve Mabona, die woordvoerder vir onderwys in die provinsie, sê die seuns van Daveyton-vaardigheidskool het op 15 April verdrink. ‘n Ondersoek is deur ‘n regsfirma gedoen en Matome Chiloane, die LUR vir onderwys, sport, kuns, kultuur en ontspanning sal die verslag daaroor Dinsdag beskikbaar stel.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
Siphamandla Peterson (15) en Sibusiso Sibiya (17), wat op Maandag 15 April op ‘n skoolkamp by Adventure Ranch in Centurion verdrink het, se dood gaan deur ‘n ondersoekende regsfirma ondersoek word.
Steve Mabona, woordvoerder vir onderwys in die provinsie, sê die LUR, Matoma Chiloane, sal die onafhanklike regsfirma se naam Vrydag by Daveyton-vaardigheidskool bekendmaak.
Die LUR het op Woensdag 17 April die skool en families van die twee leerders besoek en gister die begrafnis in die Rabasotho-gemeenskapsaal in Tembisa bygewoon.
Chiloane het teleurstelling uitgespreek met die Gauteng-skole wat nie ekstra voorsorgmaatreëls instel om leerders se lewens tydens uitstappies te beskerm nie. Die nalaat van die volg van protokol wanneer vir uitstappies by die departement aansoek gedoen word, blyk ook ‘n probleem te wees.
Die LUR het gesê stappe sal teen diegene geneem word wie se nalatigheid tot die noodlottige insident bygedra het.





