WES-KAAP. – Drie leerlinge van Hoërskool AZ Berman in Tafelsig, Mitchells Plain, is na bewering gister (Woensdag) kort ná 12:40 deur ‘n medeleerling met ‘n skroewedraaier gesteek.
Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die Mitchells Plain-polisie is omstreeks 12:20 na ‘n steekvoorval by ‘n Hoërskool in Tafelsig ontbied. ‘n Argument het na bewering tussen die verdagte en slagoffers ontstaan. Die beseerde leerlinge is vir behandeling na ‘n mediese fasiliteit geneem. Mitchells Plain-speurtak ondersoek ‘n saak van aanranding met die opset om ernstige liggaamlike beserings te veroorsaak.
Twigg het vanoggend aan Nuusflits bevestig ‘n man (18) is vir die voorval in hegtenis geneem. Sodra hy aangekla is, sal hy in die Mitchells Plain-landdroshof verskyn.
Volgens ander bronne is een leerling kritiek en twee lig beseer. Nog ‘n leerling het tydens die voorval ‘n vermoedelike epileptiese aanval ervaar en is ook na ‘n hospitaal geneem.
Bronne: SAPD, Fight Against Crime en Crime Watch