Leerling sterf op pad huis toe, onrus breek by skool uit

Lees ook :

Foto: Gauteng Departement van Onderwys

GAUTENG. – Simphiwe (Mcebo) Biyela (18), ‘n gr. 11-leerling van Hoërskool Musi in Soweto, is Dinsdag onderweg huis toe met ‘n skerp voorwerp gesteek, glo deur ‘n student van die Universiteit van Johannesburg.

Steve Mabona, die woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, sê Matome Chiloane, die LUR vir onderwys, het sy meegevoel oor Biyela se dood uitgespreek. Hierdie voorval het op Woensdag tot ontwrigting by Hoërskool Musi en ander skole in Pimville Soweto gelei.

Hoërskool Musi het Donderdag weer normaalweg klas gehad, maar onderrig is gedurende die derde periode onderbreek toe ’n groep van sowat 150 leerders glo hul pad uit die skoolperseel geforseer het. Twee ander skole in die gebied is glo daarna deur dié groep ontwrig, waarna hulle na die Universiteit van Johannesburg opgeruk het uit protes oor Simphiwe se dood.

Die Gautengse departement van onderwys (GDO) het bevestig dat leerders by die betrokke skole veilig is en dat klasse voortgaan. Die polisie ondersoek tans die omstandighede rondom Simphiwe se dood.

Berading word deur die Gautengse onderwysdepartement by Hoërskool Musi aan leerders, personeel en die breër skoolgemeenskap wat deur die misdaad geraak is, gebied.

“Ons betuig ons innige meegevoel aan die leerder se familie, vriende en die hele gemeenskap gedurende hierdie pynlike tyd. Die departement bly daartoe verbind om die skool te ondersteun en die veiligheid en welstand van alle leerders en personeel te verseker. Onderrig en leer sal môre soos normaal voortgaan. Ons doen ’n beroep op gemeenskappe in die omgewing om wetstoepassingsagentskappe toe te laat om hierdie onreg aan te spreek, en om van verdere ontwrigting van skole af te sien,” het LUR Chiloane gesê.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief