MPUMALANGA. – Mcedisi Christopher Nhlapho (19) is Dinsdag, omstreeks 14:00 in Tjakastad, naby Elukwatini, met ‘n skerp voorwerp doodgesteek terwyl hy saam met vriende van die skool af op pad huis toe onderweg was. Die Elukwatini-polisie het ses tiener-verdagtes op ‘n aanklag van die moord van ‘n mede-leerling in hegtenis geneem.
Lt.kol. Jabu Ndubane sê Nhlapho en sy vriende is glo deur ‘n groep seuns gekonfronteer, toe hy gesteek is en sy vriende van die toneel af gevlug het. Alle relevante rolspelers is ontbied, waarna ‘n 15-jarige verdagte kort ná die voorval in hegtenis geneem is. Die ander verdagtes is Woensdag vasgetrek, wat die totaal verdagtes op ses te staan gebring het. Vier van die ses minhderjarige verdagtes is vir assessering na ’n proefbeampte verwys. Die ander twee verdagtes, wat onderskeidelik 18 en 19 jaar oud is, het vandag in die Chief Albert Luthuli-landdroshof verskyn.
Ndubane sê die voorval het tydens Kinderbeskermingsweek gebeur, wat op Maandag, 26 Mei, begin het en op Vrydag, 30 Mei 2025, eindig. Dié week fokus op die Kinderwet en die belangrikheid van geregtigheid vir minderjariges.
Genl.maj. Zeph Mkhwanazi, die waarnemende provinsiale kommissaris, het die inhegtenisnemings verwelkom en sy bekommernis oor die voorval uitgespreek: “Dit is hartseer dat ons tydens Kinderbeskermingsweek met sulke voorvalle te doen moet kry waarin kinders betrokke is. Leerders moet op hul studies fokus, nie op geweld nie. Ons doen ’n beroep op ouers, skole en gemeenskappe om saam te werk om die oorsake van jeuggeweld aan te spreek.”
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





